Egpaar vreesbevange na huis met petrolbom gegooi is

’n Egpaar van Gardinerstraat, wie se huis Dinsdagoggend in die vroeë oggendure met ’n petrolbom bestook is, is stomgeslaan oor die daad en leef nou in vrees.

Thelma Koorts

brakpanherald@caxton.co.za

Lorraine (52) en Willie (56) Nel was aan die slaap toe iemand ongeveer 2.30vm ’n petrolbom op die stoep van die netjiese huis gegooi het. Hul 26-jarige dogter Michelle was ook in die huis.

Die egpaar glo dat hul huis verkeerdelik geteiken is.

’n T-hemp met ’n embleem van die EFF is in ’n blombedding van die tuin gekry.

Die woorde “The baboon was here” is op die t-hemp aangebring.

Die aanval kan moontlik verband hou met met ’n video wat glo op ’n WhatsApp groep geplaas is en waarin ’n persoon, wat glo in Brakpan woon, die leier van die EFF Julius Malema onder andere ’n “baboon” noem.

“Ons woon al 23 jaar in hierdie huis en het nog nooit probleme gehad nie,” het Willie gesê.

“Ek het intussen van die video te hore gekom en ek het ook gehoor dat die persoon in die video blykbaar in die omgewing woon.”

“Ek ken die persoon glad nie en ek is oortuig daarvan dat ons huis verkeerdelik geteiken is,” het Willie gesê.

Lorraine vertel dat sy en haar man wakker geskrik het toe hulle ’n harde slag gehoor het.

“Ons huisalarm het ook afgegaan en toe Willie dit wou gaan afsit het hy vlamme op die stoep gesien.”

“Ons was natuurlik verward en het aanvanklik gedink dat iemand by ons huis probeer inbreek of iemand probeer ons na buite lok,” het Lorraine gesê.

“Willie het besluit om nie uit te gaan nie en die volgende oomblik het ons glas hoor breek.”

Die glas wat gebreek het was ’n venster in die sitkamer wat intussen ook begin brand het.

“Toe ons die sitkamerdeur oopmaak het ons gesien dat dit in vlamme gehul was. Daar was ook baie rook,” het Lorraine vertel.

“’n Mens probeer dink wat jy moet doen en probeer hulp ontbied maar dit was regtig angsvolle oomblikke en ek kon skaars my selfoon gebruik, “het sy gesê.

Willie vertel dat bure, wat die lawaai gehoor het, tot hul redding gekom het.

“Die mense het honde hoor blaf en gesien dat ons huis brand en nie geskroom om te kom help nie,” het Willie vertel.

Die vlamme, wat besig was om die sitkamer te verswelg, is met ’n tuinslang onder beheer gebring.

Die skade is nietemin enorm en die sitkamer en die inhoud daarvan is so te sê vernietig.

Willie het gesê dat twee van hul drie katte erg deur die voorval getraumatiseerd is.

Die een kat was Dinsdagoggend steeds skoonveld.

’n Saak van brandstigting word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

 

Lees ook: “Vierjarige se woorde toe huis afbrand: “Mamma die vuur kom uit”

Weekend crime round-up

Skeletal human remains found near Brakpan Dam

Follow us:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version