CrimeNews

Kind (3) geskiet tydens huisroof

Die kind se ma het met hom in die badkamer geskuil toe die rower, volgens inligting, ‘n skoot deur die deur afgevuur het.

‘n Drie-jarige kind is vanoggend vroeg geskiet toe ‘n huisrower by ‘n huis in Brakpan-Noord toegeslaan het.

Die kind se ma (32) het met hom in die badkamer geskuil toe die rower, volgens inligting, ‘n skoot deur die deur afgevuur het.

Die skoot het die kind in die arm getref. Die ma het vanoggend aan die Herald gesê dat haar kind nog in die teater is.

Die pa is in dieselfde hospitaal opgeneem.

Volgens inligting van die SAPD het die pa (35) ongeveer 3.30vm wakker geword toe hy glas hoor breek het.

Hy het gaan ondersoek instel en ‘n  vreemdeling in die gang opgemerk.

Die inbreker het ‘n skoot afgevuur en die man het terug gehardloop na sy kamer, waar hy die deur probeer toedruk het.

Die inbreker het die deur oop geforseer en in die proses het die pa ‘n wond aan sy kop opgedoen en geval.

Die ma het intussen met haar kind na die badkamer gevlug en die deur toegemaak.

Die rower het glo ‘n skoot deur die deur afgevuur wat die kind getref het.

Volgens inligting het die huisrower ‘n televisie uit die huis geneem voordat hy op die vlug geslaan het.

Die vermoede is dat daar nog ander verdagtes in die erf was.

Lees ook:

Father and son (11) fall victim to house robbery

Huisrowers verniel bejaarde inwoner: Sit op haar en dreig met mes

Related Articles

Back to top button