Editor's choiceLocal newsNews

Dalview inwoner vier 81ste verjaarsdag met ‘n Harley-rit

Lena Strydom het vrolik vertel dat sy ’n rabbedoe in haar kinderdae was en dat niks nog nooit te diep, te hoog of te rof vir haar was nie.

Wanneer ’n mens 81 jaar oud word vier jy gewoonlik jou verjaarsdag op ’n rustige manier en waarskynlik met koek en tee saam met vriende en familie.

Maar as jou naam Lena Strydom is, doen jy net mooi niks van die rustige dinge nie.

Inteendeel, die inwoner van Dalview het op haar 81ste verjaarsdag, wat verlede Sondag gevier is, sommer vet pret gehad.

“Ek het nog altyd gesê, eendag voor ek my kop neerlê, gaan ek op ‘n Harley-Davidson ry,” het Lena vertel.

Die 81-jarige se man, Jakkie, het geweet van sy vrou se groot wens en het op haar spesiale dag gesorg dat dit ’n werklikheid kon word.

Hy het verduidelik dat hy kennis gemaak het met ‘n motorwerktuigkundige, Melvin Redelinghuys, wat ‘n Harley-Davidson besit.

“Ek het besluit dat ek daardie droom van my vrou kan bewaarheid en ek het die verrassing ’n dag voor haar verjaarsdag gereël.”

Lena was natuurlik heeltemal onbewus van wat haar man in die mou voer.

Hy het bygevoeg dat Lena, wat al die jare al in Brakpan woon, verlede Saterdag eers in ’n 1924 Ford gery het en die adrenalien daarvan het nog deur haar are gepomp toe die motorfiets by hulle huis opgedaag het.

“Sy het die motorfiets gesien, maar ek dink nie sy het besef dit was spesiaal net daar vir haar gewees nie,” het Jakkie vertel.

Lena het bygevoeg dat sy die motorfiets bewonder het, maar nie vir een oomblik gedink het dat sy die kans gegun sou word om daarop te ry nie.

“Toe sy besef wat eintlik aangaan, was sy soos blits in die huis in om vir haar ’n leerbaadjie te kry,” het Jakkie gesê.

Lena Strydom het haar 81ste verjaarsdag agter op ‘n Harley-Davidson gevier.

Melvin, wat die motorfiets bestuur het, het met Lena op die snelweg koers gekies en tot by Sunward Park gery voordat hulle teruggedraai het.

“Man, dit was so wonderlik gewees om die wind deur my hare te voel en die snelweg was oop, wat dit meer opwindend gemaak het,” het Lena vertel.

“Ek het basies op ’n motorfiets grootgeword, want my pa het vir baie jare motorfiets gery. Ek glo Melvin kon aanvoel dat ek gemaklik was en daarom was hy nie bang gewees om so ver op die snelweg met my te ry nie.”

Lena het vrolik bygevoeg dat sy ’n rabbedoe in haar kinderdae was en dat niks nog nooit te diep, te hoog of te rof vir haar was nie.

Lees ook:

Motorfietsryers se daad bring verligting

Breathtaking fire stunts and Harley action at Carnival City

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

 

Related Articles

Back to top button