Rower oorval vrou by kerk, skiet daarna bejaarde diaken

‘n 66-Jarige man is gisteroggend by ‘n kerk trompop deur ‘n rower geskiet.

‘n 66-Jarige man is gisteroggend (Donderdag) by ‘n kerk, waar hy met instandhoudingswerk help, trompop deur ‘n rower geskiet.

Dolf Raats, wat ‘n diaken van die kerk is, is tans in ‘n stabiele maar ernstige toestand in ‘n hospitaal.

Die voorval het ongeveer 8.30vm by die NG Kerk, Brakpan-Oos, wat op die hoek van Boundaryweg en Lappingstraat geleë is, plaasgevind. Die kerk grens aan ‘n hoër- en ‘n laerskool.

Volgens Hester Bosch, wat in die kerkkantoor werk, is die koster, Lettie Nortjé, eers deur die booswig oorval toe sy by die kerkgebou wou ingaan.

“Die man het Lettie rondgepluk en geld geëis,” het Hester vertel.

Lettie kon daarin slaag om van die man af weg te kom en sy het in ‘n geskokte toestand na die kantoor gehardloop.

Op dié tydstip het Dolf by die kerk se gronde ingery, met sy wit Gholf, en dit is toe dat sy pad met dié van die rower gekruis het.

“Ek en Lettie was nog in die kantoor besig om sin te maak van wat met haar gebeur het, toe Dolf aangestrompel gekom het.”

“Ek het vir hom gevra of die rower hom geslaan het en hy het geantwoord dat hy geskiet is.”

“Ons het die paniekknoppie gedruk en gelukkig het hulp gou opgedaag,” het Hester vertel.

Sy het baie groot lof vir Secure Tech, wat blitsvinnig op die toneel was, en met die ernstig beseerde Dolf na die hospitaal gejaag het.

Hy is in die maag en arm gewond.

“Die sekuriteitsmaatskappy se mense was bitter gou by ons en het nie geskroom om te help nie. Die Brakpan Radiogroep en die SAPD verdien ook erkenning vir hulle vinnige reaksie en bystand,” het Hester gesê.

“Dit was verblydend om te sien dat almal so gou daar was om ons by te staan,” het Hester bygevoeg.

Volgens haar het Dolf ‘n operasie ondergaan en sterk hy in die intensiewe sorgeenheid van ‘n hospitaal aan.

Die voorval word ondersoek.

Lees ook:

Huisrowers verniel bejaarde inwoner: Sit op haar en dreig met mes

Inbrekers slaan bejaarde so hard dat hy bloed opgooi

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Exit mobile version