Huisrowers verniel bejaarde inwoner: Sit op haar en dreig met mes

‘n Besoek aan die hospitaal het bevestig dat die bejaarde se stuitjie gebreek is en een van haar ribbebene gekraak is.

 

‘n 81-Jarige inwoner van Brenthurst is Vrydagmiddag ernstig beseer toe sy deur twee rowers in haar huis oorval is.

Sy is met ‘n mes teen haar keel gedreig en een van die rowers het deurentyd op haar gesit terwyl die ander een kosbare items uit die huis gedra het.

Die aanval op die weerlose vrou was so erg, dat dit haar met ‘n gebreekte stuitjie, ‘n gekraakte rib en kneusplekke reg oor haar liggaam gelaat het.

Volgens die vrou se dogter (55), het haar ma ongeveer 1.30nm na buite gegaan om die Herald, wat afgelewer was, te kry.

“My ma het by die voordeur gewag vir haar kleindogter (27)  se kat om in te kom. Sy het gebuk om die kat op te tel en  net toe sy die deur wou toemaak en sluit het die twee rowers toegeslaan,” het die dogter vertel.

Een van die booswigte het die bejaarde vrou  hard teen die bors geslaan en sy het geval. Hy het ‘n mes te voorskyn gebring en dit teen haar keel gehou.

Sy is daarna na die kombuis geneem waar sy op die vloer neergegooi is.

Dit is hiér waar een van die mans op haar bly sit het, terwyl die ander een onder meer, ‘n televisiestel, kontant en juwele uit die huis geneem het.

Die rowers het daarna op die vlug geslaan.

“My ma is ‘n klein geboude vrou, wat geen kans sou gehad het om haarself teen die twee mans te kon beskerm nie,” het die dogter gesê.

‘n Besoek aan die hospitaal het bevestig dat die bejaarde se stuitjie gebreek is en een van haar ribbebene gekraak is.

“Verder het sy kneusplekke oor haar hele lyf gehad. Die voorval het my ma erg getraumatiseerd gelaat,” het die dogter vertel.

Volgens die vrou het haar ma, voor die voorval plaasgevind het, ‘n Silver Toyota Yarris, wat verdag gelyk het, opgemerk.

“Die vermoede is maar dat sy dopgehou is. Ek glo die rowers het oor die muur tussen ons en ons bure gekom,” het die dogter gesê.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Lees ook: Bejaarde (78) deur drie vroue beroof

Skelms gebruik altyd nuwe slenters

Women urged to be extra security conscious and safety savvy

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Exit mobile version