CrimeEditor's noteNews

Groot skade: Inbrekers neem hul tyd om laerskool te plunder

Die kantore in die administratieweblok van die skool is in chaos gelaat.

Inbrekers het Vrydagnag groot skade aangerig toe hulle deur ’n dak by die Laerskool Dalview gebreek het en sodoende toegang tot die gebou verkry het.

Verskeie rekenaars en projektors asook ander toerusting is uit die administratiewe gebou en klaskamers gesteel.

Die inbrekers het matrasse, wat op die beddens in die siekeboeg was, gebruik om die groot vensters in die kantoor, waar ’n inloopkluis is, toe te pak. Dit was waarskynlik gedoen om die klank te demp en te voorkom dat iemand in die verbygang onraad sou opmerk.

Die inloopkluis is daarna met ’n hoekslyper oopgesny.

Volgens die voorsitter van die beheerliggaam, Eugene Nel, het die inbrekers deur die plafon gebreek, op die plek waar die alarmsisteem maklik buite werking gestel kon word.

Eugene Nel, voorsitter van die Laerskool Dalview se beheerliggaam, staan by die inloopkluis wat die inbrekers Vrydagnag oopgesny het.

“Daarna het hulle die afrolkamer oopgebreek en geplunder en ook vyf nabygeleë klaskamers geteiken.

“Die klaskamers se vensters is oop geforseer en projektors is uit die klasse gesteel,” het Nel gesê.

Nadat die booswigte die inloopkluis se deur opgesny het, het hulle ook gepoog om ’n ander kluis oop te sny, maar hulle kon nie daarin slaag nie.

Die kantore in die administratieweblok van die skool is in chaos gelaat.

“Ons het baie elektroniese toerusting verloor, maar ons wil aan al ons ouers die versekering gee dat alles so vinnig moontlik uitgesorteer sal word en dat daar nie ontwrigting sal wees wanneer die leerders na die skoolvakansie terugkeer nie,” het Nel gesê.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Lees ook:

Twee wat by skool inbreek verskyn in hof, skoolhoof bedank SAPD (grafiese foto)

Rower, wat by skool inbreek, word geskiet

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button