CrimeNews

Kapers ruk twee jong kinders uit voertuig

Die kapers het twee van die kinders (5 en 7 jaar) hardhandig uit die motor gepluk voordat hulle op die vlug geslaan het.

‘n Egpaar wat hul drie jong kinders asook ‘n familielid se kind in hul voertuig gehad het, is gisteraand deur kapers oorval en van hul voertuig beroof.

Die kapers het twee van die kinders (5 en 7 jaar) hardhandig uit die motor gepluk voordat hulle op die vlug geslaan het.

Christiaan Herbst (28) van Voortrekkerweg het ‘n familielid se kind (7) in Gladstonelaan, Brakpan-sentraal gaan aflaai toe die voorval plaasgevind het.

“Ons het van die Laerskool Brakpan-Oos se revue gekom en my vrou, Madelein (25) het agter gesit met die vier kinders,” het Herbst vertel.

“Ek het basies net voor die huis stilgehou toe ‘n man ‘n vuurwapen teen my nek gedruk het. Die motorruit was ‘n entjie afgerol.”

“Die rower het my beveel om uit die voertuig te klim en ek het probeer kalm bly.”

Die familielid se kind was reeds uit die voertuig en Herbst het aan sy vrou, wat die een-jarige kind op haar skoot gehad het, gesê om uit te klim.

“Daar was nog ‘n man aan haar kant en ons twee kinders, wat nog in die voertuig was, is hardhandig uitgeruk, waarna die rowers weggery het.”

Volgens hom was daar nog twee booswigte wat in ‘n Polo vir hul makkers gewag het.

Verskeie persoonlike besittings van die gesin was in die voertuig.

Herbst is vanoggend deur die SAPD in kennis gestel dat sy Volkswagen GTI in Nigel teruggevind is.

Lees ook:

Ma en kleuter getraumatiseer deur grypdief

Polisie gee raad na drie vroue agtervolg en beroof is

Related Articles

Back to top button