Editor's choiceLocal newsNews

Vrou se brief aan astrante dief bring rustigheid

In die brief het die vrou vir die dief gesê dat hy volgende keer maar eerder die klokkie moet lui vir hulp en sy wens hom ook goeie voorspoed toe.

In plaas daarvan om woedend te word en te kere te gaan, het ‘n inwoner van die dorp, wat verlede Woensdag besteel is, besluit om eerder ‘n brief aan die dief, wat haar eiendom gesteel het, te skryf.

Die 35-jarige vrou van Brakpan-sentraal het versoek dat haar identiteit nie bekend gemaak word nie, maar sy het ingestem om haar ongewone stap te verduidelik.

Die vrou het verlede Woensdagoggend ontdek dat ‘n gasbottel van hul gasbraaier nie meer by die braai op die stoep, reg by hul agterdeur, is nie.

“Ek het die aand, toe my man (38) tuis kom, gevra of hy dit dalk geneem het om te laat volmaak en toe hy nee sê, het ek yskoud geword.”

“My man het dadelik na buite gegaan om ondersoek in te stel en my kinders (4 en 11) wou onmiddellik weet of daar iemand in ons erf was.”

“Dit is nou wel net ‘n gasbottel, maar ek het baie emosies gevoel. Die feit dat iemand deur die nag (of dag) so naby aan ons agterdeur was, was vir my ‘n ontstellende gedagte.”

“Maar ek het net daar en dan besluit om nie myself of my kinders verder te ontstel nie en ek het ‘n stuk papier en pen geneem en vir die dief ‘n brief geskryf.”

Sy het die brief gaan vasplak op die braaier, wat nie meer ‘n gasbottel gehad het nie.

“Mense sal dit dalk baie vreemd vind, maar dit was my manier om die situasie te hanteer.”

In die brief het die vrou vir die dief gesê dat hy volgende keer maar eerder die klokkie moet lui vir hulp en sy wens hom ook goeie voorspoed toe.

“Ek is natuurlik vies maar ek gaan nie negatief raak en myself en my kinders bang maak nie.”

“’n Gasbottel kan vervang word maar my kinders en ek wil veilig voel in ons huis en erf. Dit is nie reg dat iemand insluip en jou goed vat nie. Dit gaan vir my oor wie en wat in my erf was.”

“Nadat ek die brief geskryf het, het daar ‘n soort van ‘n rustigheid oor my gekom.”

“Daar is soveel negatiwiteit in hierdie land van ons. Ek lees en luister graag na die nuus en dit is opmerklik dat elke ou dingetjie verdraai word in iets negatiefs.”

“Dit is nie hoe ek wil wees nie,” het die vrou gesê.

Lees ook:

‘n Brief aan alle rowers daar buite

Ons huise het ons tronke geword

Jong vrou spoor self haar foon op toe dief dit steel

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button