Een ou se rommel is hierdie vrou se skatte

Sonette se skeppings sluit enigiets van meubelstukke, muurbehangsels, ornamente en rame in.

As daar nou iemand is wat weet hoe om ‘n stuk rommel te neem en dit in ‘n kunswerk of bruikbare item te omskep is dit die Brakpan inwoner Sonette Coetzee (47).

Haar unieke talent het ook gesorg dat sy onlangs deel uitgemaak het van die gewilde Afrikaanse televisieprogram Skatjagter.

Die ma-en-seun-span, Joe en Dorothy Strydom, wat passievol is oor erfstukke en oudhede, is die aanbieders van Skatjagter, wat weekliks op die DStv-kanaal 147 uitgesaai word.

Tydens die program reis die ma en seun na verskeie plekke om vergete skatte uit te snuffel en te herstel tot hul eertydse glorie.

Die twee het aan die einde van verlede jaar ‘n draai by Sonette, in Brakpan, kom maak en ook twee “skatte” uit haar versameling uitgesoek om te restoureer.

“Dit was ‘n wonderlike ervaring om vir Joe en Dorothy te ontmoet en dit was groot pret om deel van die program te kon wees,” het Sonette gesê.

Sonette, wat voorheen in Brakpan gewoon het, het sowat drie jaar gelede na die dorp terug gekeer nadat sy vir ‘n ruk op Ogies gewoon het.

“Ek het terug gekeer na Brakpan in die tyd dat die Metro die wheelie-bin stelsel in werking gestel het.

“Daar was baie mense wie se vullissakke rondgestaan het en wie nie geweet het hoe om van hul rommel ontslae te raak nie,” het Sonette vertel.

“Ek het ‘n geleentheid gesien en mense se weggooi goed met my bakkie begin wegry. Ek het toe agter gekom dat daar daagliks baie goed op die ashoop beland wat nog gebruik kan word.”

Sonette het daar en dan haar “upcycling” besigheid op die been gebring en vandag skep sy kunswerke en meubelstukke uit ander se rommel.

“Ek gaan nog gereeld na die stortingsterreine en skrootwerwe om te kyk watter bruikbare goedere ek kan kry.

“Sommige van die goed moet ek koop en ander goed tel ek net op maar ek kan nie verby iets loop wat bruikbaar is nie,” het Sonette vertel.

“Ek gaan ook graag na veilings want daar kry ek dikwels interessante items om mee te werk.”

Sonette se skeppings sluit enigiets van meubelstukke, muurbehangsels, ornamente en rame in.

“Ek meng self my verf en hou nie daarvan om iets nuuts te koop nie. Ek kyk eers of ek nie ‘n plan kan maak voordat ek ‘n nuwe ding moet koop nie.”

Die werkswinkel wat Sonette tans gebruik is van so ‘n aard dat haar mooi goed nie behoorlik uitgestal kan word nie en haar droom is om eendag ‘n groot vertoonlokaal en werkswinkel op een perseel te hê.

Sy stal wel by markte uit maar omdat sekere van die meubelstukke groot is, is die vervoer daarvan soms problematies.

Haar vennoot, Patrick Hilton (29), sit hand by waar hy kan en dan maak sy baie staat op haar “regterhande”, Lucky Mofokeng (22) en Anna Erasmus (45), wat ook help.

“Mense moet nooit hul stukkende of ou meubels weggooi nie. Daar is altyd werk daarvoor.”

Sonette het ‘n Facebook-blad, Upcycling at Togive, waar belangstellendes meer oor haar werk kan uitvind.

Kyk hier na meer foto’s

Lees ook:

Inwoner verstom met haar kreatiwiteit

Exit mobile version