Geotab Just Wheels Motorskou bied iets vir almal

Alhoewel die skou fokus op liefhebbers van voertuie, word daar deur die loop van die dag ‘n propvol program aangebied om iets vir almal se smaak te bied.

Die Geotab Just Wheels Motorskou, wat Saterdag by die Muriel Brand Skool, in Brenthurst, gehou word, beloof om ‘n dag vol pret en vermaak vir die hele gesin te bied.

Alhoewel die skou fokus op liefhebbers van voertuie, wat alles van klassieke-, veteraan- en nuwe voertuie asook bakkies, motorfietse, trekkers en sportmotors insluit, word daar deur die loop van die dag ‘n propvol program aangebied om iets vir almal se smaak te bied.

Die hekke open reeds om 6vm, maar slegs vir uitstallers.

Die publiek kan vanaf 8vm opdaag en die toegang is R30 per persoon.

Deur die loop van die dag sal verskeie kunstenaars optree. Daar sal ook ‘n trompoppie- en revue-vertoning wees.

Die EMPD se honde-eenheid gaan om 10vm wys waartoe hulle in staat is.

Die publiek sal ook tussen meer as 100 vlooimarkstalletjies kan rondsnuffel.

Country sangers gaan vanaf 3nm optree en om 5nm sal vure aangesteek word.

Belangstellendes kan dan braaipakke aanskaf en sosiaal verkeer.

Entoesiaste van 4×4-voertuie kan hul vernuf op ‘n spesiale baan gaan beproef en vele ander kompetisies word ook deur die loop van die dag aangebied.

‘n Hoogtepunt, elke jaar, is die ossewa waarop die publiek kan ry.

Die versekering is gegee dat dié indrukwekkende span osse en wa weer vanjaar deel van die skou sal wees.

Bart Zaayman, van die Just Wheels Klub, het gesê dat daar verlede jaar meer as 500 voertuie op die skou was.

“Ons hoop om vanjaar op hierdie syfer te verbeter.”

Zaayman het ook versoek dat die publiek ‘n item nie-bederfbare kos sal saamneem. Dit kan by die hek ingehandig word.

Die klub skenk elke jaar die fondse aan Muriel Brand skool en verlede jaar is ‘n tjek van R134 361,50 aan die skool oorhandig.

Lees: Fasiliteite by skool word opgeknap danksy skenking van Just Wheels

Dié geld is gebruik om die skool se toiletgeriewe vir die leerders op te knap.

Lede van die Just Wheels Klub asook personeel van Geotab, wat die hoofborg van die skou is, het Vrydag besoek gebring aan die skool om te sien hoe die opgraderingswerk vorder.

“Ons is byna klaar met die werk en die ekstra toilette, wat ons vir beide die seuns en meisies kon aanbring, asook die algemene opknapping van die toiletgeriewe gaan ‘n baie groot verskil maak,” het die adjunkhoof, Christo Grobler, gesê.

“Ons sien ook uit na vanjaar se skou en nooi die publiek uit om ‘n heerlike gesinsdag saam met ons te kom geniet,” het Grobler gesê.

Kyk hier na foto’s van verlede jaar se skou:

Die Geotab Just Wheels Motorskou 2016 (1)

Die Geotab Just Wheels Motorskou 2016 (2)

Die Geotab Just Wheels Motorskou 2016 (3)

Die Geotab Just Wheels Motorskou 2016 (4)

Die Geotab Just Wheels Motorskou 2016 (5)

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version