Inwoners kan help om die dorp reg te ruk

“As elkeen in die dorp ‘n klein bydrae lewer kan ons ‘n groot verskil maak."

Inwoners van die dorp, wat keelvol is vir die vuil toestand waarin dit verkeer, kan Saterdag moue oprol en ‘n verskil maak.

Die DA raadslede Stefanie Ueckemann en Brandon Pretorius nooi alle inwoners uit om ‘n uur of wat van hulle tyd op te offer en rommel op te tel.

Die Herald het twee weke gelede foto’s op die webtuiste gepubliseer (kyk hier na die foto’s) van die haglike toestand waarin die dorp verkeer.

Asblikke wat tot oorlopens toe vol is en vuil sypaadjies, strate en parke het ‘n algemene gesig geword.

“Die Ekurhuleni Metro het intussen ‘n poging aangewend en sekere van die plekke skoon gemaak, maar ons kan steeds ‘n positiewe bydrae lewer,” het Ueckerman gesê.

“Ons het met sekere skole van die dorp onderhandel dat leerders Vrydag om die skole sal papiere optel en Saterdag kan die publiek inspring en ook help.”

Belangstellendes kan om 9.30vm by die parkeerterrein van die Hellenic Community of East Rand (Griekse Kerk), in Bekkerstraat, bymekaar kom.

Ueckermann en Pretorius gaan Vrydagmiddag deur die dorp ry en plekke, wat dringend aandag nodig het, identifiseer.

“Ons sal dan Saterdagoggend in groepe verdeel en die areas, wat geïdentifiseer is, gaan skoonmaak,” het Ueckermann bygevoeg.

Sy het ook die publiek, wat nie by die groter projek wil inskakel nie, aangemoedig om op hul eie stoom ‘n plek te identifiseer en skoon te maak.

“As elkeen in die dorp ‘n klein bydrae lewer kan ons ‘n groot verskil maak.”

Persone wat aan die skoonmaak-projek gaan deelneem word versoek om handskoene, vir hul eie beskerming te dra, en indien moontlik ‘n swart vullissak of twee saam te neem.

Die publiek wat op hul eie gaan skoon maak is welkom om hul foto’s met besonderhede aan die Herald te stuur na brakpanherald@caxton.co.za

Lees ook:

Die dorp is in ‘n haglike toestand

Almal kla maar niemand lig ‘n vinger nie

Só kan jy help om die dorp skoon te kry

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version