CrimeEditor's noteNews

Diewe in huis terwyl ma en kinders slaap

“Wat vir my baie pla is die feit dat die sak, wat die dief gebruik het, by my in die sitkamer was."

Twee diewe het Vrydagoggend in die vroeë oggendure in ‘n huis gesluip, waar ‘n ma en haar twee jong kinders gelê en slaap het, en goedere uit die huis gesteel.

Wat hul vermetelheid soveel meer blatant maak is die feit dat die vrou se man en twee van sy vriende slegs meters van die agterdeur, waardeur hulle toegang verkry het, gesit en kuier het.

Anandi Erasmus (26) van Bekkerstraat, Dalview het aan die Herald vertel dat sy en haar twee kinders (een en vyf jaar oud) Donderdagaand in die sitkamer aan die slaap geraak het, waar sy nog tot laat televisie gekyk het.

Haar man, Gert (30) en twee van sy vriende het in ‘n lapa in die agtererf gekuier.

“Gert het so 12.45vm na die agterdeur gestap om sigarette te kry toe hy twee mans by die agterdeur gewaar het,” het Anandi vertel.

Die oortreders het onmiddellik laat spaander en oor die bure se muur probeer ontsnap.

“Een van die mans het gou oor die muur gekom. Gert het die swembad se besem gegryp en na die tweede man geslaan.”

“Dié man het ‘n sak goed, wat hy by hom gehad het, laat val, maar kon ook daarin slaag om oor die muur te kom.”

“Gert en sy twee vriende het onmiddellik in die voorerf en in die straat gaan kyk of hulle die mans kon sien, maar daar was geen teken van hulle nie.”

In die sak, wat deur die een dief laat val is, was onder meer ‘n skootrekenaar, beursie en sigarette wat op die kombuistafel was.

“Wat vir my baie pla is die feit dat die sak, wat die dief gebruik het, by my in die sitkamer was. Daardie man was dus by my en die kinders in die sitkamer terwyl ons geslaap het,” het Anandi gesê.

Haar handsak wat ook in die huis was, is in die voortuin opgetel.

“Ek vermoed die man wat eerste weggekom het, het dit daar laat val.”

“’n Mens is so geneig om te dink jy is veilig, maar hierdie voorval laat ons nou weer met ander oë na die saak kyk,” het Anandi gesê.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Lees ook:

Rowers slaan toe langs die viswater

Rowers sê hul sal baba vat

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button