Joey is steeds Herman se diamant

“My ma het my by die kerk ingeneem en ek kan so goed onthou toe ek vir Herman voor in die kerk sien staan het. Dít sal ek nooit vergeet nie.”

Daar was Donderdag groot rede tot feesviering in die Bethany Tehuis toe twee inwoners van die tehuis hul sestigste huweliksherdenking gevier het.

Herman (82) en Joey (81) Pieters is volgens die personeel van die tehuis ‘n wonderlike voorbeeld vir almal en dat daar steeds groot liefde tussen die egpaar is, is geen geheim nie.

Die Pieterse is op 20 April 1957 in Ermelo getroud nadat hulle mekaar vir so nege maande geken het.

Joey vertel dat sy die dag baie goed kan onthou.

“My ma het my by die kerk ingeneem en ek kan so goed onthou toe ek vir Herman voor in die kerk sien staan het. Dít sal ek nooit vergeet nie,” het Joey vertel.

Sy voeg by dat sy ‘n rok sonder frilletjies en valle, wat haar ma se suster vir haar gemaak het, aangehad het.

Herman was vir meer as 30 jaar in diens van die SAPD en het na sy aftrede vir sowat 10 jaar op ‘n plaas naby Loskopdam geboer.

“Ek het my werk in die diens van die polisie geniet maar die jare op die plaas was ook vir my aangenaam,” het Herman, wat veral met tamaties geboer het, vertel.

Joey het tot en met haar aftrede by verskeie banke gewerk.

Hulle skryf hulle lang en gelukkige huwelik daaraan toe dat die Here altyd deel was van hulle lewe en hulle huwelik. Verskille is deurgaans met wedersydse kommunikasie en respek uitgesorteer.

Herman vertel ook heftig dat ‘n man nooit, ooit sy hand vir ‘n vrou moet lig nie.

“Ek het geen tyd vir enige man wat dit doen nie,” het hy bygevoeg.

“Dit is ook nie nodig om te raas en te vloek nie. Om vriendelik met mekaar te wees is die beste,” het Herman gesê.

Die egpaar het twee seuns, Manie en Schalk, en twee dogters, Jahnie Hawkey en Florence van der Walt.

Almal behalwe Florence, wat in Rustenburg woon, is woonagtig te Brakpan.

Daar is ook agt kleinkinders en sewe agter kleinkinders waarop hulle baie trots is.

Exit mobile version