Sammy is in die kol met die ja-woord

“Dit is enige vrou se droom dat haar toekomstige man uit sy pad sal gaan om die groot vraag te vra en Pieter het beslis nie teleurgestel nie.”

Toe Pieter Peachey (32) onlangs vir Sammy Davis (23) gevra het om te trou, was daar geen tyd vir haar om senuweeagtig te wees of bewerig te raak nie. Veral nie bewerig nie.

Sy moes aanlê met ‘n .338 Lapua Magnum geweer en haar antwoord aandui deur die “ja-” of “nee-” kol op ‘n teikenbord raak te skiet.

Sammy het geweet wat haar antwoord was en het kalm gebly en die ja-kol sekuur in die middel getref.

Die spreekwoordelike koeël was toe regtig deur die kerk en Pieter het sy antwoord gekry. Hulle was amptelik verloof en beplan om volgende jaar te trou.

Pieter se ongewone manier, om die liefde van sy lewe te vra om te trou, spruit uit sy voorliefde vir jag en ook teiken skiet, wat hy as stokperdjie beoefen.

“Ons het mekaar sowat ses maande gelede ontmoet en alhoewel ons nog nie lank saam is nie, weet ons wat ons wil hê en sien ons nie waarom ons langer moet wag nie,” het Sammy vertel.

Pieter het besluit om sy ongewone verlowingsplan op 18 Maart deur te voer en vir Sammy was dit ‘n groot verrassing.

“Ek het vermoed dat daar iets aan die gang is, maar ek het nooit gedink dat hy so erg uit sy pad sou gaan om die oomblik so spesiaal te maak nie,” het Sammy gesê.

“Ek het soos ‘n prinses gevoel en op die dag het hy ook moeite gedoen om my ma, Christina Gunter, van Klerksdorp, daar te kry.”

“Dit is enige vrou se droom dat haar toekomstige man uit sy pad sal gaan om die groot vraag te vra en Pieter het beslis nie teleurgestel nie,” het sy bygevoeg.

Dit was beslis Sammy Davis se dag. Danksy haar bedrewenheid met ‘n vuurwapen was sy in die kol toe Pieter Peachey haar onlangs gevra het om te trou.

Voordat Sammy vir Pieter ontmoet het, het sy nie veel van vuurwapens en jag geweet nie, maar deesdae is dit ‘n stokperdjie wat hulle saam geniet.

Pieter sê dat hy nie bekommerd was dat Sammy die “ja-kol” sou mis skiet nie.

“Ons het baie tyd op die skietbaan spandeer, onder die dekmantel dat Sammy moet oefen om haar eerste bok te skiet,” het Pieter vertel.

“Ons sal in Mei gaan jag en hopelik sal Sammy dan haar eerste bok kan skiet.”

“Maar eintlik het ek haar hard laat oefen sodat sy die ‘ja-kol’ kon tref en nie die ‘nee-kol’ nie,” het Pieter geskerts.

Die mooi ring wat Pieter aan Sammy se vinger gesteek het, is ‘n ring van sy ma, Elsie Peachey, wat sy pa, Rob Peachey, ‘n paar jaar gelede aan haar gegee het. Hy het dit goed gedink om dié spesiale juweelstuk, met die goedkeuring van sy ouers, aan sy toekomstige vrou te gee.

Sammy Davis se verloofring.

“Ek is so gelukkig. Nou begin al die lekker werk en beplanning vir die groot dag. Ek is ewig dankbaar om mense om my te hê wat dit alles die moeite werd maak,” het Sammy gesê.

Lees ook:

Liefde het nie brieke vir die paartjie nie

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version