CrimeEditor's noteNews

Eienaar van troeteldierwinkel doodgeskiet

Hy en die verdagte was glo kennisse van mekaar.

‘n 34-Jarige man sal vanoggend in die Landdroshof van Brakpan verskyn op ‘n aanklag van moord, nadat hy na bewering Vrydagaand die eienaar van ‘n troeteldierwinkel in Dalpark doodgeskiet het.

Die voorval het na 8nm by ‘n kuierplek in Kareestraat, plaasgevind.

Die verdagte is op die toneel gearresteer en was die naweek in aanhouding.

Die oorledene is Johan van Eeden (45). Hy en die verdagte was glo kennisse van mekaar.

Van Eeden se verloofde van die afgelope ses jaar het vanoggend (Maandag) aan die Herald gesê dat die slegte tyding Vrydagaand aan haar oorgedra is.

Sy was by haar en Van Eeden se woonstel in Brakpan-sentraal.

“Toe die polisie offisier en nog ‘n persoon by ons woonstel aangekom het, het ek eers gedink dat Johan in ‘n ongeluk was. Ek moes toe hoor dat hy geskiet is,” het Christien Venter gesê.

“Ons is al agt jaar saam en was op 21 Februarie, vanjaar, ses jaar verloof.

“Alles voel nog onwerklik en ek weet dat ek my maat baie gaan mis.

“Johan was ‘n mense-mens wat baie omgegee het vir ander.

“Hy het baie vriende gehad en sou nooit verby iemand gery het, wat in die nood was nie.

“Sy sagte hart en geaardheid was ‘n eienskap wat van hom ‘n geliefde persoon gemaak het,” het Venter bygevoeg.

“Johan het Eeden Pets in Desember op die been gebring. Dit was ‘n groot droom van hom en hy het die besigheid baie geniet.

“Hy wou terselfdertyd vir sy dogter, Belinda (21), uit ‘n vorige verhouding, en my seun, Riaan (15), iets skep waarmee hulle kon voortgaan,” het Venter bygevoeg.

Venter het gesê dat sy op Johan se droom wil voortbou.

“Ek gaan beslis voortgaan met die besigheid. Dit is wat Johan sou wou gehad het.”

Die begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button