Pasop! Diewe soek nuwe speelgoed

“Voorvalle het oral in die dorp voorgekom en ‘n sekere area kan nie uitgesonder word nie.”

Diefstal van motorfietse het die afgelope maand toenemend voorgekom in die dorp en die Brakpan SAPD het motorfietseienaars gewaarsku om voorkomend op te tree.

Kapt Peet van der Schyff, van die Brakpan SAPD, het gesê dat verskeie voorvalle gedurende die afgelope maand aangemeld is en dat meeste van die gevalle gedurende die nag plaasgevind het.

Die Fourie-gesin van Tweedyweg, Brenthurst, het verlede Maandagoggend in die vroeë oggend ure ook deel van die statistiek geword toe twee blou 660 Raptor kwadfietse uit hul erf gesteel is.

Lees: Diewe steel graag batterye

Gavin Fourie (28) het gesê dat die kwadfietse by sy ouerhuis geparkeer is.

“Al die nodige veiligheidsmaatreëls by die huis is in plek, maar die diewe het tog toegang verkry vanaf die bure se erf,” het Gavin vertel.

Volgens hom, het die booswigte die gesin se boerboel vergiftig en moontlik ook iets naby sy ouers se kamervenster gespuit.

“Die diewe het die slot aan die gemotoriseerde skuifhek oopgebreek en die hek van sy spoor gelig om sodoende die twee fietse uit die erf te kry.”

“Hulle het ook probeer om die waentjie waarop die fietse gestaan het te steel maar hulle kon dit nie uit die erf kry nie.”

“My pa, Christo, het Maandagoggend gesien die hek staan effe oop en toe agter gekom dat die kwadfietse gesteel is,” het Gavin vertel.

Hy het bygevoeg dat die boerboel darem betyds gered kon word.

Van der Schyff het gesê dat die diewe gewoonlik in die nag toeslaan. “Voorvalle het oral in die dorp voorgekom en ‘n sekere area kan nie uitgesonder word nie,” het hy gesê.

Hy het aangeraai dat motorfietseienaars hul motor- en kwadfietse asook bromponies verkieslik in ‘n motorhuis toesluit sodat dit glad nie sigbaar is nie.

“Hekke moet ook snags gesluit word. Sekuriteitsligte en –kameras asook alarms en elektriese heinings kan alles daartoe bydra om diewe se taak te bemoeilik,” het van der Schyff gesê.

Lees ook: 

So maak jy diewe se lewe baie maklik 

VIDEO: Diewe steel kar helder oordag in Brakpan binne twee minute

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Exit mobile version