Baba brand erg toe hy in smeulende as val

"Ons wil graag hê dat ander ouers bewus moet wees van wat met ons gebeur het.”

‘n 11-maande oue baba het Sondag ernstige brandwonde opgedoen toe hy in ‘n gat smeulende as by die Brakpan Dam geval het.

Cuyres Kearney het tweede graadse brandwonde aan sy regterarm en -been opgedoen.

Sy ouers is woedend oor die nalatigheid wat daartoe gelei het dat hul kind so erg gebrand het.

Bianca (24) en haar man, Duane (27), het Sondagmiddag net na 12middag by die Jan Smutspark aangekom, om saam met Cuyres en hul twee ander kinders, Calib (5) en Joshua (3), te ontspan.

“Ons het net daar aangekom toe ek opmerk dat daar glasstukke rondgelê het, op die plek waar ons wou sit,” het Bianca vertel.

“Cuyres het pas begin loop en die ander twee kinders was kaalvoet en daarom het ek dadelik begin om die glasstukke te verwyder,” het Bianca vertel.

Sy het vir Cuyres op ‘n kombers neergesit en die twee ouer seuns het na die klimrame in die park gehardloop.

“Calib het byna dadelik terug gekom en gevra vir koeldrank, wat Duane vir hom geskink het.

“Die volgende oomblik het ons gehoor hoe Cuyres, wat intussen van die kombers af beweeg het, hard begin huil.

“Ek het aanvanklik gedink iets het hom gebyt en ek en Duane het na hom gehardloop.

“Toe ek my kind optel het ek eers gedink hy is net vuil, maar toe ek sien hoe die velletjies aan sy hand hang, het ek besef daar is groot fout,” het Bianca vertel.

Tot die ouerpaar se groot skok het hulle agter gekom dat die kleintjie in ‘n gat met smeulende as en stukkies kole geval het.

“Daar was absoluut geen teken van die smeulende gevaar nie. Ons sou dit mos raaksien of ruik of ‘n rokie gesien trek het,” het Duane gesê.

“Die grasperk was gelyk en ons kan nog steeds nie verstaan hoe die gat so onopsigtelik kon wees nie,” het hy bygevoeg.

Lees: Pa klou verbete vas aan sy tweeling (agt maande) in yskoue water

Bianca sê eers nadat Cuyres in die as geval het, kon ‘n mens sien dat daar ‘n gat was, waarin vuur gemaak is.

Die egpaar, wat nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, het met Cuyres na die Verre Oosrand Hospitaal gejaag, waar hy vir sy wonde behandel is.

“Dit is veral die pinkie en die vinger langs sy pinkie wat erg gebrand het. Die velle het losgehang aan sy hand en armpie. Die brandwond aan sy knie is ook erg,” het Bianca gesê.

Volgens haar het hulle besluit om nie hul kind in die hospitaal te laat opneem nie.

“Ek het medikasie en daar is ‘n persoon wat my help om die wonde daagliks skoon te maak en weer te verbind,” het Bianca gesê.

“My kind verduur steeds pyn en sy eetlus is nie wat dit moet wees nie.”

Die ouerpaar voel sterk oor die nalatigheid wat tot die voorval gelei het.

“Iemand moes daardie vuur gemaak het. Wat sou gebeur het as my kind met sy gesig eerste in daardie smeulende as geval het?”

“Alles het binne ‘n oogwenk, pas nadat ons daar aangekom het, gebeur. Ons was nog besig om ons goed uit te pak.”

“Mense moet besef dat kinders in die park speel en dat dit nie reg is om ‘n vuur op die grond te maak nie. Dit is ook nie reg dat daar stukke glas rondlê nie.”

“Kinders speel kaalvoet. Ons wil graag hê dat ander ouers bewus moet wees van wat met ons gebeur het,” het Bianca gesê.

Lees ook: 

Vrou brand erg toe warmwatersak bars 

Kyk: Skokvideo waar kind omgery word, sorg vir hartseer en geluk

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Exit mobile version