R30 vir sewe ure se harde werk

“Die lewe is swaar en daar is mense wat op ons neerkyk, maar ons verdien ons geld op ‘n harde en eerlike manier.”

Rommel versamelaars, wat groot wit sakke agter hul aansleep of op lendelam trollies trek, is deesdae ‘n algemene gesig.

Vir baie is dit ‘n enigste bron van inkomste en ‘n desperate poging om kos op die tafel te kry.

Vir Magda Kapp (49) en haar gesins- en familielede het rommel versameling ook ‘n daaglikse roetine geword.

Die beloning is maar min in vergelyking met die groot gesukkel om die versamelwerk te doen, maar volgens Magda het hul geen ander keuse nie.

Magda, haar niggie, Monica Hamerveld (26), asook haar seun, James Kapp (23), en sy swanger meisie, Charmaine Grobler (21), vaar elke oggend dou voor die dag die strate in om hoofsaaklik plastiek, blikkies en papier bymekaar te maak.

“Ons is ses mense wat onder een dak woon, met huurgeld van R1 600 wat maandeliks betaal moet word.”

“Werk is skaars en op hierdie manier verdien ons darem ‘n paar rand,” het Magda vertel.

Lees: Harde werk vir bietjie geld

Maandagoggend was sy en Monica reeds om 5vm op straat.

Teen 2nm was hul op pad na die plek waar hulle die rommel wat hul bymekaar gemaak het kon verkoop.

“Ons het nie vandag ons sak vol gekry nie en ons sal seker so R30 vir die sak kry,” het Magda vertel.

Volgens haar is dit geen maklike taak nie.

“Ons moet vroeg opstaan en ver loop. Ons moet in mense se asblikke grou en soms is die sak baie swaar.”

“Ons het ook nie ‘n trollie of waentjie nie, so ons moet maar die sak sleep.”

Lees: ‘n Bietjie uitsorteer werk sal nie skade doen nie

Magda en haar niggie werk saam terwyl James en Charmaine saam werk.

‘n Bejaarde 70-jarige lid van die gesin sit bedags in haar rolstoel by ‘n kruising, naby die plek waar hulle woon, in ‘n poging om ook ‘n paar randjies bymekaar te kry.

“My seun, James, soek al baie lank werk, maar werk is bitter skaars,” het Magda gesê.

‘n Ander groot bekommernis is die feit dat sy vriendin swanger is.

“Charmaine is sowat vyf maande swanger en ons het basies nog niks vir die kleintjie wat op pad is nie,” het Magda gesê.

“Die lewe is swaar en daar is mense wat op ons neerkyk, maar ons verdien ons geld op ‘n harde en eerlike manier,” het Magda gesê.

Lees ook: 

Waentjies in die pad is ‘n gevaar

Werkloosheid veroorsaak groot ellende

‘Ons bly onder ‘n boom, want ons kry nie werk nie’

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version