Rolstoel keer nie dat Corné die groottes vang nie

‘n Kranige hengelaar van Brakpan sal mense verstom met sy besonderse sukses langs die viswater, ten spyte van die feit dat hy homself in ‘n rolstoel bevind.

Corné Lubbe (48) het op die jong ouderdom van 27, tydens ‘n ongeluk in ‘n swembad, sy nek gebreek. Dié insident het hom verlam gelaat, maar dit het hom nie gekeer om uiteindelik SA klere vir hengel te ontvang nie.

Corné was onlangs deel van die Gautengspan wat goud verower het, tydens die eerste SA Hengelkampioenskap vir gestremde hengelaars.

Kyk hier na ‘n video van die Hengelkampioenskap wat op Bank Angler Oewerhengelaar se Facebook-blad geplaas is: 

 

Hy het aan die Herald verduidelik hoe sy sukses langs die viswater begin het.

“Ek is so paar jaar gelede genooi om saam met een van my vriende, Riaan Bornman, wat ook in ‘n rolstoel is, te gaan visvang.

“Ek het opgemerk dat sy katrolle aangepas is, om dit makliker te maak vir iemand wat ‘n fisiese gestremdheid het,” het Corné vertel.

Corné het die aangepaste visstok op die proef gestel en van daar af het alles begin.

Riaan het daarna vir Corné betrokke gekry by Rainbow, ‘n hengelklub vir gestremdes, en waarvan Riaan die voorsitter is.

“Ek behoort nou al ses jaar aan die klub en dit wat ek reeds bereik het, is regtig ‘n hoogtepunt in my lewe,” het Corné vertel.

Corné het groot lof vir sy helper, Abraham Sekgwele (39), wat hom die afgelope twee jaar bystaan wanneer daar gehengel word.

“Abraham help om die aas op te sit en die lyn in te gooi. Wanneer daar ‘n vis aan die hoek is, help hy ook om dit te skep,” het Corné vertel.

Abraham is baie ingenome met die prestasies wat hy tot dusver saam met Corné kon behaal het en wys graag met groot trots na die medaljes wat hulle tot dusver ontvang het.

“Abraham was baie in sy skik toe hy die eerste keer sy Gauteng en SA klere aangetrek het. Hy is my regterhand en ek weet nie wat ek sou gedoen het sonder hom nie.”

Corné het ook genoem dat sy droom nie bewaarheid kon word, sonder borgskappe nie.

“Alles werk tog duur uit en sonder mense se ondersteuning sou ek nie hierdie stokperdjie en wonderlike sport kon beleef nie,” het Corné vertel.

Corné het ook bygevoeg dat hy en Abraham reeds al die wiel aan die rol gesit het om vanjaar weer aan die SA’s deel te neem.

Vir diegene wat meer wil uitvind oor Rainbow of graag wil aansluit, kontak vir Corne by 073 177 2421 of stuur ‘n e-pos aan Riaan by oerie30@hotmail.com.

Exit mobile version