Pa klou verbete vas aan sy tweeling (agt maande) in yskoue water

“Voor die duikweg in Voortrekkerweg het ek besef dat daar te veel water was en dat ek dit nie deur die duikweg sou maak nie. Ek het rem getrap, maar ‘n stroom water het ons Polo meegesleur en ons is in die duikweg af.”

Die pa van ‘n agt-maande oue tweeling het Maandagaand verbete in yskoue water aan sy seuntjies vasgeklou toe die voertuig waarin hy en sy gesin gery het, deur vloedwater meegesleur is en in ‘n kolkende watermassa beland het.

Die voorval het net voor 8nm plaasgevind toe groot dele van die dorp deur ‘n hewige storm en swaar reën getref is.

Jeff Bekker (32) vertel dat daar oomblikke was dat hy gedink het dat sy vrou, Erika (29), nie betyds uit die voertuig sou kon kom nie. Hy was egter magteloos om haar te help aangesien hy gespook en gespartel het om die tweeling, Caleb en Liam, se koppe omhoog te hou.

“Ek en Erika was net voor 8nm op pad na ons huis in Dalview. Dit het erg gereën,” het Jeff vertel.

“Voor die duikweg in Voortrekkerweg het ek besef dat daar te veel water was en dat ek dit nie deur die duikweg sou maak nie. Ek het rem getrap, maar ‘n stroom water het ons Polo meegesleur en ons is in die duikweg af.”

“Ek kon gelukkig daarin slaag om my venster oop te draai en ek en Erika het dadelik gepoog om die kinders uit hul karstoeltjies te kry.”

“Ek kon dit regkry om uit die kar te kom en het die tweeling in my arms vasgeklou,” het Jeff vertel.

“Erika kon nie dadelik uit die kar kom nie en daar was regtig waar ‘n oomblik dat ek gedink het dat ek my vrou gaan verloor.”

“Ek was egter magteloos, want ek kon my net by ons babas bepaal.”

“Op ‘n stadium het ek darem gesien hoe my vrou uit die voertuig kon kom en my verligting was baie, baie groot.”

Hulp het intussen opgedaag in die vorm van insleepvoertuie en vrywilligers en ‘n kabel is laat sak na Jeff en die kinders.

“Ek kon dit regkry om aan die kabel vas te hou en is na veiligheid gebring. So ook Erika.”

Die tweeling is na die Life Dalview Hospitaal gehaas waar hulle vir ondermeer hipotermie behandel is.

Volgens Jeff was hul toestand vanoggend (Dinsdag) bevredigend, maar hulle word nog dopgehou.

“Ek is baie dankbaar teenoor die insleepdienste en ander vrywilligers wat gehelp het.”

“Ons was vir meer as ‘n halfuur in die water en ek het moeg geraak om self staande te bly en die kleintjies vas te hou.”

“Gelukkig het alles goed uitgewerk vir ons,” het Jeff gesê.

Lees die opvolg hier

Lees ook: 

Dorp nie deur vloed-chaos geraak nie

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version