Editor's choiceLocal newsNews

KYK: Derduisende liggies sorg vir skouspel

Bokkie (52) en Adel (45) Meyer se huis is verlede Desember deur mense van heinde en verre besoek en vanjaar het die egpaar selfs ’n groter poging aangewend om besoekers te beïndruk.

’n Egpaar van Brenthurst verwag vanjaar weer, soos verlede jaar, duisende mense by hul huis nadat hulle verlede Maandagaand die Kersfeesliggies, wat hul erf en huis in ’n sprokieswêreld omskep, aangeskakel het.

Bokkie (52) en Adel (45) Meyer se huis is verlede Desember deur mense van heinde en verre besoek en vanjaar het die egpaar selfs ’n groter poging aangewend om besoekers te beïndruk.

Die kinderlose egpaar vertel dat hulle verlede jaar besluit het om oor die Kersseisoen iets mooi te skep, veral tot genot van die kinders.

“Daar is niks lekkerder as om die kinders se gesiggies te sien wanneer hulle by ons hek instap nie,” het Adel gesê.

Die huis was verlede jaar indrukwekkend getooi in derduisende liggies en vanjaar het die Meyers deur die loop van die jaar meer liggies en versierings aangekoop.

Daar is reeds in November begin om die magdom liggies en versierings aan te bring en verlede Maandag is dit amptelik aangeskakel.

“Ons is van plan om dit elke aand tot 31 Desember vanaf 7nm te laat brand, maar wanneer dit reën moet ons dit ongelukkig afskakel,” het Adel gesê.

Adel en Bokkie sorg ook dat die kinders, wat hulle huis besoek, elkeen ’n pakkie skyfies of springmielies en ’n lekker ontvang.

“Verlede jaar het ons op een aand 500 pakkies springmielies uitgedeel. Daar was soveel besoekers dat ons nie eens meer ’n grasperk gehad het nie. Die gras is heeltemal doodgetrap,” het Adel gesê.

Vanjaar het die egpaar ’n plan beraam sodat die publiek net op die plaveisel kan beweeg en by een hek ingaan en by ’n ander hek uitgaan.

“Wanneer ons die liggies saans aanskakel is dit net ’n kwessie van ’n paar minute dan begin die mense stilhou,” het Adel vertel.

Sy is baie trots op ’n ses meter hoë verligte struktuur met ’n kruis aan die bopunt wat haar pa Hendrik Wolmarans (72) spesiaal vir hulle tuin gemaak het.

“Dit is vir ons belangrik om steeds die ware boodskap van Kersfees uit te dra en ons het selfs ’n voorstelling van ’n baba in ’n krip,” het Adel bygevoeg.

Die egpaar vertel dat hulle nie daarin belangstel om aan kompetisies deel te neem of te kompeteer met ander mense nie.

“Ons doen hierdie bloot vir die kinders. Alhoewel volwassenes net soveel genot daaruit put. Ons het verlede jaar byna elke aand briefies opgetel wat kinders in die tuin vir Kersvader agtergelaat het,” het Adel gesê.

Die egpaar gee nie om, om aand na aand tot laat geduldig te wag terwyl mense hul huis bewonder nie.

“Daar was wel verlede jaar mense wat ons sypaadjie met drankbottels en glase bemors het, maar ons het dit maar na die tyd skoongemaak,” het Bokkie gesê.

Hy vertel dat dit meer as ’n week neem om al die liggies weer af te haal en weg te pak.

“Dié gedeelte is nie so lekker nie, maar dit is maar deel van die hele proses,” het Bokkie gesê.

Hy het bygevoeg dat hulle reeds besig is om planne te beraam vir nog ’n groter skouspel volgende jaar.

Die huis is geleë in 653 Pringe Georgelaan, Brenthurst.

Kyk hier na meer foto’s:

Skouspel van liggies (1)

Skouspel van liggies (2)

Skouspel van liggies (3) 

Skouspel van liggies (4)

Related Articles

Back to top button