Kind (8) ontroosbaar na jaagduiwel haar hondjie doodry

“Die man het nie eens stilgehou nie. Ek hoop hy kry skaam en mag hy nagmerries kry oor die feit dat ’n klein dogtertjie se hondjie wreed dood is, en dit net voor Kersfees.”

’n Agt-jarige kind van Brakpan-Noord is baie hartseer nadat ’n jaagduiwel Dinsdagaand haar klein Yorkie doodgery het.

Die voorval het net na 7nm in Biggslaan gebeur toe die Yorkie uit die erf geglip het toe ’n familielid tuis gekom het.

Die Yorkie is Dinsdagaand in Biggslaan doodgery.

Volgens Melissa Palazzo is haar kind Leandré Stander ontroosbaar na die voorval.

“Leandré en Lulu was baie geheg aan mekaar en sy is regtig baie hartseer,” het Palazzo gesê.

“Wat my kwaad maak is die feit dat die persoon gejaag het asof hy op Kyalami was.”

“Mense moet regtig begin aandag gee aan hoe hulle in woonbuurte ry.”

“Dit is vakansie en kinders ry fietse in die strate; dit kon net so maklik ’n kind gewees het,” het Palazzo bygevoeg.

Volgens haar het die persoon ’n wit en sjampanje kleurige Colt bakkie bestuur.

“Die man het nie eens stilgehou nie. Ek hoop hy kry skaam en mag hy nagmerries kry oor die feit dat ’n klein dogtertjie se hondjie wreed dood is, en dit net voor Kersfees,” het Palazzo gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version