CrimeEditor's choiceNews

Brakpanner wat sy eksvrou skiet, spring tronkstaf vry

Corné de Jager het verlede jaar sy eksvrou Roosmarie op die N2-snelweg naby die Heroldsbaai-afdraai geskiet.

Die man wat verlede jaar sy eksvrou, wat ’n welbekende inwoner van die dorp was, geskiet het, is Maandag in die streekshof op George gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op drie aanklagtes teen hom.

Cornelius (Corné) de Jager (48) het op 1 Mei, verlede jaar, sy eksvrou Roosmarie (46) op die N2-snelweg naby die Heroldsbaai-afdraai in die been geskiet.

Lees: Welbekende inwoner van die dorp geskiet

Hy het daarna die vuurwapen op homself gerig en hom onder die ken geskiet, maar dit oorleef.

Die egpaar, wat 20 jaar lank getroud was, is op 26 Maart, 2015 geskei en Roosmarie het kort daarna na Groot-Brakrivier verhuis.

Roosmarie is na die skietvoorval in ’n bedenklike toestand in die hospitaal opgeneem en het intussen verskeie operasies ondergaan.

Sy het sedertdien na Australië geëmigreer waar sy besig is om vir haarself ’n nuwe toekoms te bou.

De Jager het op die dag van die skietery gevra om sy eksvrou te ontmoet.

Na die ontmoeting, op pad terug na haar blyplek, het daar ’n woordewisseling tussen die twee ontstaan.

De Jager het sy bakkie tot stilstand gebring, waarna Roosmarie uitgespring en probeer weghardloop het. De Jager het haar ingehaal en terug gedwing na sy voertuig.

Twee motorfietsryers het stilgehou om hulp aan te bied.

Toe hulle sien dat De Jager ’n vuurwapen het, het hulle verkeersbeamptes, wat daar naby was, verwittig.

De Jager het ’n vuurwapen teen Roosmarie se linkersy gedruk en drie skote, wat nie afgegaan het nie, gevuur.

‘n Vierde skoot, wat hy afgevuur het, het Roosmarie in die linker been getref.

Hy het daarna weggejaag, maar na ’n paar minute weer teruggekeer na die toneel van die skietery.

Hy het beheer oor sy bakkie verloor en die voertuig het tot stilstand gekom.

Hy het hierna sy vuurwapen weer te voorskyn gebring en homself onder die ken geskiet.

De Jager het Maandag skuldig gepleit op drie aanklagte naamlik poging tot moord, roekeloos en nalatige bestuur, en die rig van ’n vuurwapen.

Lees: Man, wat bekende Brakpanner glo geskiet het, verskyn in hof

Op die aanklag van poging tot moord is De Jager tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vyf jaar met die voorwaarde dat hy gedurende die tyd nie weer skuldig bevind sal word aan ’n soortgelyke misdryf nie.

De Jager moet ook ’n kontant bedrag aan sy eksvrou betaal en hy sal vir die volgende drie jaar onderworpe wees aan korrektiewe toesig met baie streng voorwaardes.

Die voorwaardes sluit onder meer die volgende in: huisarres, hy moet aan sekere ontwikkelings- en ondersteuningsprogramme deelneem, hy mag tydens die tydperk geen alkohol of nie-voorgeskrewe narkotiese middels gebruik nie, hy kan ook elekektronies gemonitor word en hy sal 16 ure gemeenskapdiens per maand verrig.

Op die tweede en derde aanklagtes is De Jager ’n boete van R4 000 of 12 maande gevangenisstraf, wat opgeskort is vir vyf jaar opgelê, op die voorwaarde dat hy homself nie gedurende die tydperk skuldig maak aan ’n soortgelyke oortreding nie.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Roosmarie het na afloop van die vonnisoplegging aan die Herald gesê dat sy verlig is dat die saak uiteindelik afgehandel is.

“Dit was ’n uitmergelende 19 maande,” het sy vanuit Australië gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button