Wêreldkroon wink vir dié twee

“Beide ons kinders geniet die modelwerk baie. Ons plaas nie druk op hulle nie en ons geniet die kompetisies saam as ’n gesin.”

Indien alles volgens plan verloop sal twee kinders van die dorp volgende jaar, gedurende Junie, in Bulgarye gaan meeding om die titel van Klein Mej Wêreld en Klein Mnr Wêreld.

Lees: Geen keer aan die boetie en sussie nie

Wat die vooruitsig soveel meer merkwaardig maak is die feit dat die twee deelnemers ’n boetie en sussie van Dalpark is.

Natalie (9) en Evan (10) Krause van Dalpark het onlangs outomaties vir die gesogte kompetisie in Bulgarye gekwalifiseer toe hulle onderskeidelik die Klein Mej Wêreld SA en Klein Mnr Wêreld SA titels ingepalm het.

Die twee is geen onbekendes op die loopplank nie en Natalie, wat sedert vier-jarige ouderdom modelwerk doen, het al meer as 350 titels agter haar naam.

Lees: Agt-jarige het reeds 118 titels agter haar naam

Ouboet, Evan het eers twee jaar gelede modelwerk begin doen maar is soos sy sussie besig om die een titel na die ander in te ryg.

Hy het reeds meer as ’n verstommende 50 titels agter sy naam.

Hul ouers, Mariette en Deon, staan bankvas agter die twee uiters talentvolle kinders en is baie opgewonde oor die vooruitsig dat beide om die Wêreldkroon, in hul onderskeie ouderdomsgroepe, kan gaan meeding.

“Dit is uit die aard van die saak die top-titel wat verower kan word en dit sal fantasties wees indien ons by die kompetisie sal kan uitkom,” het Mariette gesê.

“Daar word van deelnemers verwag om op hul eie onkoste daaraan deel te neem en omdat beide ons kinders gekwalifiseer het, is die prys dubbel soveel,” het sy bygevoeg.

“Ons gaan egter alles in die stryd werp om hierdie geleentheid vir ons kinders moontlik te maak,” het Deon gesê.

Die Krause se huishouding wentel al vir jare om modelwerk en skoonheidskompetisies.

Die kinders neem ten minste drie keer per maand aan ’n kompetisie deel.

“Ons spits ons toe op sekere kompetisies, en werk hard om positiewe resultate te kry,” het Mariette gesê.

Tydens die onlangse Klein Mej Wêreld SA kompetisie het Natalie nie net met die kroon in haar ouderdomsgroep weggestap nie, sy het ook die gesogte titel van Klein Mej Wêreld SA Super Grandprix ontvang. Dié gesogte titel word toegeken aan die deelnemer wat die hoogste puntetelling vir die dag ontvang het.

Daarbenewens het sy op dié dag vyf ander afdelings gewen.

Evan het ewe goed gevaar en het behalwe die Klein Mnr Wêreld SA kroon, agt ander kategorieë gewen.

“Beide ons kinders geniet die modelwerk baie. Ons plaas nie druk op hulle nie en ons geniet die kompetisies saam as ’n gesin,” het Mariette vertel.

Deon, wat Vogue Catwalk East Rand besit, help baie met sy twee kinders se afrigting.

Die ander persoon wat ’n massiewe rol in hul sukses speel is die baie bekende Valerie Begbie, eienaar van Vogue in Pretoria.

Die kinders het voorheen gereeld na Pretoria gereis vir afrigting deur haar.

Sy help nog steeds, maar die gesin reis nie meer so gereeld na Pretoria nie.

Evan en Natalie is baie opgewonde oor die vooruitsig om moontlik in Bulgarye te gaan meeding.

“Dit kos net vreeslik baie geld,” het Evan opgewonde vertel.

Volgens Mariette verg die kompetisies, waaraan die kinders deelneem, baie toewyding en word daar baie van die deelnemers verwag.

“Om briljant op die loopplank te vaar is nie meer goed genoeg nie. Daar word van deelnemers verwag om onderhoude te kan voer, ’n talent ten toon te stel en welsynswerk te doen,” het Mariette vertel.

“Daar is ook verskillende kategorieë waar die kinders beoordeel word op grond van hul persoonlikheid, vriendelikheid, sjarme, kleredrag en hul vermoë om vir die kamera te poseer.

“Ons het ons kinders geleer om altyd net hul beste te gee, maar hulle is ook geleer om ’n nederlaag te aanvaar, het Deon bygevoeg.

“Ons is dankbaar vir ons kinders se talente en vir nou sal ons fokus op die Mnr en Mej Wêreld kompetisie.”

“Dit sal ’n wonderlike belewenis wees,” het Mariette gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version