Editor's choiceLocal newsNews

Oud-besigheidsman oorlede

“My pa het deur die jare ’n groot vriendekring opgebou en hy het nooit gehuiwer om te help of raad te gee nie.”

’n Oud-besigheidsman van die dorp is verlede Dinsdag oorlede.

Godfried Grib (69) het in 1986 BG Scrap Metals (die tak in Hoylaan) op die been gebring en het die besigheid tot in 1992 suksesvol bedryf totdat hy dit van die hand gesit het.

Grib, wat saam met sy vrou Babie (60) in Rand Colleries gewoon het, is in Groot Marico gebore en het in die Zeerust area grootgeword.

Hy het in 1984 na Brakpan verhuis, waar hy tot met sy afsterwe gewoon het.

Volgens sy dogter, Dot Haviga (41) was haar pa altyd ’n hardwerkende man, wat goed vir sy gesin gesorg het.

“My pa was maar altyd doenig met skroot en ek kan onthou hoe ons as kinders altyd gehelp het om die skroot uit te sorteer,” het sy vertel.

“Hy sou dit dan in sy ou Ford Cortina gelaai het en gaan verkoop het.”

“Dit was vir hom ’n groot uitdaging om BG Scrap te begin en die besigheid het vir hom baie beteken.”

“My pa het altyd daaraan geglo dat ’n mens moet werk vir jou geld en dit is presies wat hy gedoen het.”

Volgens Haviga kon haar pa goed mondfluitjie speel en het hy dit geniet om vis te vang en veerpyltjies te speel.

“Hy was ook dol oor rofstoei en het altyd nader geskuif wanneer daar ’n kragmeting op die televisie vertoon is.”

“My pa het deur die jare ’n groot vriendekring opgebou en hy het nooit gehuiwer om te help of raad te gee nie,” het Haviga gesê.

“Hy het ook ’n sagte plekkie vir sy kleinkinders gehad en was op sy gelukkigste wanneer hy hulle gesien het.”

Benewens sy vrou en Dot laat hy ook drie ander kinders naamlik Johannes (45), Nita (40), en Kleinboet (35) asook ses kleinkinders na.

Die begrafnis het Vrydag vanuit die Ou Apostoliese Kerk plaasgevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button