Kyk: Skatlike tannie (100) sê gedig op

Daar was verlede Vrydag groot opgewondenheid by die Van den Berg-gesin toe Irene van den Berg (nooiensvan Watson) die 100 jaar mylpaal met grasie betree het.

Wanneer ’n mens die fyn vroutjie ontmoet, lyk sy nie naastenby ’n eeu oud nie, maar haar oë vertel ’n ander storie.

“Kan julle glo ek is vandag ’n 100 jaar oud?” het sy vrolik aan almal gevra.

Glimlaggend en met ’n wit blommekransie om haar kop het Irene Vrydagoggend met groot belangstelling deur ’n familie-fotoalbum geblaai.

“Kyk, hier was ek ’n bruid!” het sy opgewonde uitgeroep.

Die skatlike tannie het deeglik na elke foto in die album gekyk en vir haar agterkleinkind, Evadnè van den Berg (22), verduidelik wie op elke foto verskyn.

Irene is op 25 November, 1916, in Kaapstad gebore.

Sy het haar kinderlewe op verskeie plekke in die Kaap deurgebring, soos haar ouers van plek tot plek verhuis het.

In 1938 is Irene in die Soutrivier se AGS Kerk met Stefanus van den Berg getroud. Stefanus is 40 jaar later oorlede.

Sy het twee seuns, vier kleinkinders, vyf agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.

“Ons het nooit gedink my skoonma sal ’n 100 jaar oud word nie. Toe sy jonger was, het dit nie baie goed gegaan met haar gesondheid nie. Sy het baie operasies al gehad,” het Anna van den Berg vertel.

Irene was ’n huisvrou gewees, maar het 30 jaar van haar lewe spandeer aan kerkwerk in die Kaap en veral gefokus op welsynwerk.

Sy is sedert 18 Februarie vanjaar ’n inwoner van die Eventide Tehuis in Brakpan.

“Blykbaar is my ma die oudste inwoner wat Eventide nog ooit gehad het, sedert hulle, hulle deure oopgemaak het,” het Kobus van den Berg vertel.

Sy hou steeds daarvan om doenig te wees en sal gereeld met breiwerk in die hande gesien word.

En wanneer Irene wil ontspan, trek sy nog ’n boek nader.

Kyk hier na meer foto’s

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Exit mobile version