Local newsNews

Ses-jarige beland in hospitaal na skok-nagmerrie

“Ek het hom nog nooit tevore so hoor huil nie. Dit was soos ‘n skree-huil gewees en ek kon nie verstaan wat aangaan nie.”

Die ma van ‘n ses-jarige kind het van die angswekkende oomblikke vertel toe haar kind Sondag geskok is, nadat hy aan die ankerdraad van ‘n lamppaal in Hamiltonlaan geraak het.

Annabelle Wheeler (41) het verduidelik dat die voorval plaasgevind het toe sy, na kerk, saam met haar gesin en vriende op pad huis toe was.

“Ons volwassenes het geloop en gesels. So nou en dan het die kinders bietjie agter geraak en op ‘n stadium het ek gehoor hoe my seun, Daniel, begin huil. Hy het ook neergeval,” het sy vertel.

“Ek het hom nog nooit tevore so hoor huil nie. Dit was soos ‘n skree-huil gewees en ek kon nie verstaan wat aangaan nie.”

Annabelle het bygevoeg dat Daniel na die ankerdraad, wat op die hoek van Hamiltonlaan en Hannastraat geanker is, gewys het.

“Dit is toe dat ek besef het dat Daniel geskok is,” het sy gesê.

“Hy het darem nie ernstig seergekry nie, maar het nietemin vir my vertel dat hy gevoel het hoe die elektriese stroom deur sy hele lyf beweeg het.”

Daniel is toe na die Verre-Oosrand Hospitaal geneem, waar hy behandel is en Maandag ontslaan is.

Floris Liebenberg, ‘n inwoner van Hamiltonlaan, het vertel hoe daar al vonke sigbaar was by dieselfde paal, wanneer dit reen.

“Ons het al seker vier keer die foutiewe paal by die munisipalitiet aangemeld. Die laaste keer wat hulle na die paal kom kyk het, het ek gedink dit sal nie weer probleme gee nie,” het Liebenberg vertel.

Die Ekurhuleni Metro is genader vir kommentaar. Sodra dit ontvang word, sal dit gepubliseer word.

Related Articles

Back to top button