Editor's choiceLocal newsNews

Liefde het nie brieke vir die paartjie nie

“Ek het al die reëlings getref en uitnodigings uitgestuur, maar toe begin die reën val. Week na week na week."

‘n Inwoner van Brakpan-Noord se deeglike planne om die liefde van sy lewe te vra om te trou het die afgelope tyd meer as een keer skeef geloop, maar hy kon verlede Woensdagaand darem daarin slaag om die ring aan sy toekomstige vrou se vinger te steek.

JJ le Roux (26) het al by vyf vorige geleenthede probeer om verloof te raak, maar daar het telkens iets voorgeval.

Sowat twee weke gelede het hy geglo dat die groot oomblik uitendelik sou aanbreek, maar danksy ‘n hewige storm en gietende reën, wat oor die dorp uitgesak het, moes hy weer sy plan opsy skuif.

Lees: Dorp nie deur vloed-chaos geraak nie

Hy het sy beplanning maar vir nog ‘n week uitgestel en kon uiteindelik verlede Woensdagaand vir Bianca Baker (27) vra om te trou; op die manier waarop hy dit graag wou doen.

JJ het in die middel van die renbaan by die Rock Raceway gestaan, terwyl ‘n professionele bestuurder om hom gery (drift) het met Bianca as die passassier.

Met die geskreeu van bande en die motor wat om JJ getol het, het hy ‘n bord vasgehou waarop daar woorde aan albei kante gestaan het.

Aan die een kant het daar gestaan: “Ek is verlief op jou ok!” en aan die ander kant: “Flippen trou net met my!”.

“Ek het besluit om dit op dié manier te doen, want ons altwee het ‘n groot liefde en passie vir karre,” het JJ gesê.

“Ons het ‘n gunsteling gesegde wat sê: ‘Good things happen around cars’.”

Die verliefde paartjie se liefdesverhaal het juis ook danksy karre begin.

“Ek het tydens ‘n ontbyt-rit Bianca se jonger suster, Chanelle, ontmoet en net grappenderwys gevra of sy nie ‘n ouer suster het nie. Dit is toe dat ek Bianca se nommer gekry het en van daar af het ek en sy begin gesels.

“Ek onthou nog met die eerste ‘date’ was sy siekerig en nie so opgedollie soos ander meisies nie. Ek dink dit het juis my hart gesteel.

“Ek en Bianca is toe saam na ‘n motorwedren en dit is waar alles begin het.”

JJ het ook bygevoeg dat Bianca ‘n plat op die aarde persoon is en dat hul passie vir vinnige karre ‘n pluspunt is.

Bianca Baker gee vir JJ le Roux ‘n groot soen op die wang, nadat hy haar gevra het om te trou en sy heel opgewonde ja geantwoord het.
Bianca Baker gee vir JJ le Roux ‘n groot soen op die wang, nadat hy haar gevra het om te trou en sy heel opgewonde ja geantwoord het.

“Ons liefde vir vinnige motors en wedrenne is wat ons bymekaar gebring het. Dit is ons leefstyl,” het Bianca gesê.

“Die adrenalien agter ‘n stuurwiel is dieselfde gevoel wat ons kry as ons na mekaar kyk. Ons liefde is vol passie. Ons respekteer mekaar en ons is altwee gemotiveerd om die beste te behaal.”

JJ lag maar net oor die feit dat sy laaste poging omtrent die vyfde probeerslag was.

JJ le Roux wys weer vir sy nuwe verloofde, Bianca Baker, die bord wat hy vasgehou het, terwyl sy as passasier saam met ‘n professionele bestuurder om hom gery (drift) het.
JJ le Roux wys weer vir sy nuwe verloofde, Bianca Baker, die bord wat hy vasgehou het, terwyl sy as passasier saam met ‘n professionele bestuurder om hom gery (drift) het.

“Ek het al die reëlings getref en uitnodigings uitgestuur, maar toe begin die reën val. Week na week na week.

“Ek het later so negatief begin voel, want ek het die verloofring toe al vir drie maande gehad.”

JJ erken dat sy senuwees gedaan was toe hy die groot vraag verlede Woensdag moes vra.

“Ek moes wag vir die regte oomblik, totdat alles perfek sou wees. Die drie maande wat ek die verloofring gehad het, het vir my soos jare gevoel,” het hy gesê.

“Ek het al so lank beplan aan alles, maar toe die dag uiteindelik aanbreek, kon ek nie glo dat ek nog so senuweeagtig kon wees nie.”

Bianca gee toe dat die hele ondervinding vir haar ‘n groot verrassing was.

“Onlangs het JJ nog met my gegrap en gesê hy dink nie hy is een vir trou nie. Ek het dit glad nie verwag nie,” het sy gesê.

“Ek kan nie glo dat soveel mense daarvan geweet het en niemand iets laat uitglip het nie,” het sy gesê.

JJ vertel dat hy die ring met groot sorg gekies het, om perfek by Bianca te pas.

Bianca Baker se verloofring.
Bianca Baker se verloofring.

“Ek het besluit op dié spesifieke ring, want Bianca het ongewone klein en fyn hande.

“Dit pas by haar. Sy is klein en fyn met ‘n groot hart.”

Lees ook:

Egpaar vier 50 jaar van liefde

Vet pret by die boemelaars se trou

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button