CrimeNews

SAPD waarsku inwoners oor verdagtes wat rondsluip en mense dophou

’n Fyn geboude 22-jarige vrou moes haarself Woensdagoggend teen drie huisrowers beskerm, toe hulle die veiligheidshek van haar huis oopgebreek het.

Die Brakpan SAPD het ’n ernstige waarskuwing gerig aan veral inwoners van Brenthurst na ’n vlaag van huisrowe en diefstal die afgelope tyd voorgekom het.

Lees: Waarskuwing: Hekmotor-diewe is weer erg bedrywig

’n Fyn geboude 22-jarige vrou moes haarself Woensdagoggend teen drie huisrowers beskerm, toe hulle die veiligheidshek van haar huis oopgebreek het.

Die jong vrou, wat saam met haar gesin in Thomasstraat woon, was Woensdagoggend alleen by die huis.

“Ek was besig in die kombuis en het ’n geluid by die voordeur gehoor. Ek kon ook beweging onderdeur die deur sien,” het sy vertel.

“Ons het ’n veiligheidshek en ek was dus gerus om die houtdeur oop te maak om te kyk wat aangaan.”

“Dit was ’n fout, want ek het in drie fris geboude mans vasgekyk.”

“Ek het vinnig probeer om die houtdeur toe te maak, maar hulle kon daarin slaag om die deur oop te druk,” het die vrou vertel.

Die mans het haar eers in die televisiekamer laat sit met ’n kussing oor haar kop.

“Ek het die hele tyd gesmeek dat hulle niks aan my moet doen nie en gevra of ek net in my kamer kon gaan sit.”

“Ek is na my kamer geneem en die man, wat die hele tyd by my gebly het, het gesê dat ek ’n kombers oor my kop moes gooi.”

“Ek kon hoor hoe die ander twee deur die huis gaan. Hulle het woes te kere gegaan.”

Nadat die rowers verskeie huishoudelike items, juweliersware en parfuum in hul voertuig gelaai het, is die vrou beveel om in die badkamer te gaan sit.

“Ek het ’n rukkie gewag totdat alles stil geraak het en toe uitgegaan.”

“Ek het toe gesien dat die veiligheidshek by die voordeur oopgebreek is en ons hek het ook oopgestaan,” het die vrou vertel.

Lees: Kriminele slaan toe in die hitte

“Dit was ’n baie onaangename voorval en ek is dankbaar dat ek ongedeerd is.”

Die Brakpan SAPD het by monde van kapt Peet van der Schyff gesê dat Brenthurst die afgelope tyd ’n vlaag van misdaad ondervind.

Volgens hom moet inwoners veral op die uitkyk wees vir drie verdagtes wat huise dophou.

“Hierdie mense hou die inwoners se doen en late fyn dop en slaan toe op die regte tye,” het Van der Schyff gesê.

Inwoners kan die volgende doen om hulself en hul eiendom te beskerm:

• Wees baie oplettend, veral wanneer jy jou huis verlaat en weer terugkeer. Indien daar vreemdelinge rondstaan of -sit moet dit dadelik aangemeld word.

• Dit is belangrik om jou huishulp en tuinier in te lig van die gevaar daar buite. Dié mense moet ook te alle tye op hul hoede wees en onder geen omstandighede vir vreemdelinge toegang tot die erf of huis gee nie.

• Ekstra slotte aan buitehekke en veiligheidshekke asook sekuriteitsligte moet oorweeg word.

• Hou die sektorvoertuig vir Brenthurst se telefoonnommer byderhand en rapporteer dadelik enige verdagte persone of situasie. Die nommer is 071 675 6958.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button