Editor's noteLocal newsNews

Dillan se passie is om ander te help

Dillan du Preez moes aanvanklik een bruin papiersakkie vir die Rata Maatskaplike Dienste met nie-bederfbare items vul, maar dié seun het nie op hom laat wag nie, en het uiteindelik 75 propvol sakkies by sy skool ingehandig.

‘n 11-Jarige leerder van Laerskool Die Arend het onlangs die monde laat oophang toe hy die ekstra myl geloop het om ‘n projek van ‘n welsynorganisasie te ondersteun.

Lees: Help om 50kg klere te versamel

Dillan du Preez, wat in graad vyf is, moes aanvanklik een bruin papiersakkie vir die Rata Maatskaplike Dienste met nie-bederfbare items vul, maar dié tiener het nie op hom laat wag nie, en het uiteindelik 75 propvol sakkies by sy skool ingehandig.

Die Rata Maatskaplike Dienste (voorheen die Ondersteuningsraad) het onlangs ‘n projek van stapel gestuur om nie-bederfbare voedsel en toiletware in te samel, om sodoende kospakkies in Desember uit te deel.

Die publiek, skole en kerke is genader om die kardoes-projek te ondersteun.

Dillan vertel dat leerders van sy skool elk ‘n bruin papiersakkie ontvang het, waarop daar aangedui is waarmee die sakkie gevul moes word.

“Die eerste sakkie wat ek gekry het, het aangedui dat ek seep bymekaar moes maak. Dit het vir my maklik genoeg geklink en toe gaan vra ek nog sakkies by die kantoor,” het Dillan vertel.

“Ek het nog ses sakkies gekry, maar al die sakkies was vir sjampoe gemerk en ek het gedink die mense daar buite het seker meer as seep en sjampoe nodig.”

Dillan het vir sy ma, Alida, gevra om met Rata kontak te maak en nog sakkies te vra.

“Honderd sakkies is by ons huis afgelaai en toe moes ons regtig aan die werk spring,” het Dillan vertel.

“Ek het met die hulp van my gesin en vriende dit reggekry om uiteindelik 75 pakkies vol te maak, waarna ek dit ingehandig het.

“Ek voel baie goed oor my poging. Ek weet dat daar baie mense daar buite is wat swaarkry.

“Ek het elke dag kos om te eet, ek gaan skool toe en ek het ‘n dak oor my kop.

“Ons besef nie altyd hoe gelukkig ons is nie. Ek kan nie eens dink hoe goor dit moet wees as ‘n mens vir een of twee dae niks het om te eet nie.”

Dillan glo dat die wêreld ‘n baie beter plek sal wees as mense meer vir mekaar omgee.

“Ek het hierdie sakkies met die hulp van my gesin volgemaak, en dit was vir my baie lekker om dit te doen. As daar volgende jaar weer so ‘n projek is, sal ek probeer om meer sakkies vol te maak,” het hy gesê.

Die Rata Maatskaplike Dienste het vanjaar die projek van stapel gestuur om hul in staat te stel om Desember kospakkies aan behoeftige gesinne uit te deel.

Die organisasie voorsien daagliks sowat 100 mense van ‘n bord kos.

Gedurende Desember word daar ‘n blaaskans geneem, wat beteken dat geen voedselhulp vir ‘n tydperk beskikbaar is nie.

Die kospakkkies, wat danksy die kardoes-projek saamgestel word, word op die laaste voedingsdag uitgedeel.

Met die hulp van die publiek is daar uiteindelik 1 300 sakkies bymekaar gemaak, en ‘n totaal van 638kg klere, wat ook onder die behoeftiges versprei sal word, is bymekaar gemaak.

Kyk hier na meer foto’s

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button