Swaarkry laat pa van twee oorweeg om sy eie lewe te neem

“Sondag was vir my ’n baie moeilike dag en ek het dit regtig oorweeg om myself op te hang, maar ek is bly ek het dit nie gedoen nie. My vrou en kinders het my nodig.”

’n 37-Jarige pa van twee jong kinders, wat onlangs uit sy huurhuis gegooi is, se desperaatheid het hom Sondag byna daartoe gedwing om sy eie lewe te neem.

Die man sê dit was net die gedagte aan sy vrou (28) en sy kinders (drie en ses jaar) wat hom verhoed het om dié drastiese stap te neem.

Die hoop huishoudelike items en ’n tent, wat die afgelope paar dae op ’n oop stuk grond in Powerlaan staan, het baie mense laat wonder wat aangaan.

Die gesin slaap die afgelope paar dae in ‘n tent.

Die Herald het gaan ondersoek instel.

Die man het verduidelik dat hy die afgelope vier jaar ’n huis in Powerlaan gehuur het.

Weens sekere omstandighede het die eienaar van die huis al die deure asook die hek voor die huis in Desember verwyder, in ’n poging om die gesin te dwing om uit te trek.

“Ek het geweier en ons het tot agt dae gelede in die huis gebly met geen deure of ’n hek nie,” het die man gesê.

“Die huis is baie naby aan die straat geleë en ek het elke nag gevrees vir die veiligheid van my vrou en kinders.”

Die man het ’n inspuiting vol brandstof getrek en daarmee langs sy bed geslaap.

“Ek het nie ’n vuurwapen nie en ek sou die brandstof uitspuit en aan die brand steek indien iemand ons wou leed aandoen,” het hy verduidelik.

Hy het ook vishoeke aan vislyn vasgemaak en aan die bome voor die huis gehang in ’n poging om boosdoeners uit die huis te hou.

“Ons is baie keer gedreig met die dood en my vrou is selfs met verkragting gedreig.”

Die gesin se besittings is sowat ’n week gelede deur werknemers van die huiseienaar uit die huis gedra en voor die huis in ’n veld gelaat.

“Ons het die eerste paar aande in my kar geslaap. Gelukkig het iemand vir ons ’n tent gebring en nou slaap ons in die tent.”

Die man het Donderdagoggend gesê dat hy intussen ’n kamer gekry het waar hy en sy gesin sal gaan bly.

“Dit is nie vir ons veilig om so in die veld te bly nie en daar is ook die moontlikheid dat ons goed gesteel sal word.”

Die man herbou motors en motorfietse, maar hy sê dat werk die afgelope tyd baie skaars was.

“Ek hoop maar net dat ek ’n plan kan maak om al my goed by die kamer, wat ons nou gaan huur, te kry.”

“My vrou kry epileptiese aanvalle en dit gaan maar moeilik, maar ek sal weer opstaan en regkom,” het hy gesê.

“Sondag was vir my ’n baie moeilike dag en ek het dit regtig oorweeg om myself op te hang, maar ek is bly ek het dit nie gedoen nie. My vrou en kinders het my nodig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version