Editor's choiceLocal newsNews

Moord op maj Jordaan: Ma praat

“Ek het nooit kans gekry om hom te groet of vir ‘n laaste keer vas te hou nie."

Die 63-jarige ma van die vermoorde maj Coert Jordaan (39) voer daagliks ‘n stryd om die wrede moord op haar seun, of Boeta, soos sy hom genoem het, te verwerk.

Jordaan was die bevelvoerder van die EMPD se Berede Eenheid toe hy op 27 Januarie vanjaar, by die Ashton Lake, in Springs, vermoor is.

Lees: EMPD lid langs viswater vermoor

Twee verdagtes is steeds in aanhouding en die hofsaak moet nog afgehandel word.

Rina Cilliers sê die dag toe haar seun se lewe op so ‘n barbaarse wyse kort geknip is, het daar ook ‘n stukkie van haar gesterf.

Sy het haar geweldige stryd met die Herald gedeel.

“Die dag toe my Boeta vermoor is, was ek en ‘n vriendin in Springs, maar dit was asof iets my gejaag het om by die huis te kom,” het sy vertel.

“Ek het my skootrekenaar aangeskakel en ‘n mooi foto gesien wat Coert op Facebook geplaas het.”

Die foto was van die plek waar hy visgevang het, met sy visstokke op die penne.

Die laaste foto wat Coert Jordaan geneem het en op sy Faceboekblad geplaas het.
Die laaste foto wat Coert Jordaan geneem het en op sy Facebookblad geplaas het.

“Ek het dit oorweeg om hom te bel, maar dit was sy afdag en ek wou hom nie pla nie,” het Cilliers gesê.

Haar lewe het in duie gestort toe sy later die aand die tyding kry.

”My dogter Talitha en my skoonseun Lourens (Cilliers woon by hulle) het my kom roep en gesê dat ons na Coert se huis moes gaan.

“Ek het nog gevra waarom, maar hulle het net gesê dat ons moet gaan.

“Toe ons by sy huis kom en ek al die Metro voertuie gewaar het ek geweet daar is groot fout, maar ek het nog nie gedink dat my kind dood is nie.”

Minute later het Cilliers se lewe in duie gestort toe sy hoor dat haar Boeta langs die viswater gesterf het.

“Ek het geweet my kind is spesiaal en besonders, maar in die dae na sy dood het ek besef hoeveel mense se lewens hy aangeraak het.”

Jordaan se begrafnis is deur meer as 1 000 hooggeplaastes, kollegas, vriende en familie bygewoon.

Lees: Honderde betoon laaste eer aan vermoorde maj Coert Jordaan

Bitter min mense het op daardie dag nie ‘n traan gestort nie.

“Die begrafnis was vir my so moeilik. Mense het mooi woorde gehad en almal was ondersteunend, maar al waaraan ek kon dink was dat my kind in daardie kis gelê het,” het Cilliers onthou.

“Ek het nooit kans gekry om hom te groet of vir ‘n laaste keer vas te hou nie.

“Ek moet eerlik wees, ek was altyd bekommerd dat hy ‘in the line of duty’ kon seerkry of sterf, maar ek kan nie vrede maak met die wyse waarop hy uit ons lewens geruk is nie.

“My hart gaan ook elke dag uit na sy vrou, Angelique, en dan is daar natuurlik sy oogappel, Klarebel (3).

Lees: Majoor Coert Jordaan se vrou praat met die Herald oor haar man se dood

“Coert en daardie kind van hom was onafskeidbaar. Sy was sy alles, en die kleintjie kry ook maar swaar.

“Ons probeer maar elke situasie na die beste van ons vermoë hanteer.

“Klarebel het onlangs na ‘n geraamde foto van Coert gekyk en vir my gesê dat ek hom daar in die hemel moet bel, want sy wil met hom praat.”

“Sulke dinge vat aan ‘n mens en dan wonder ek maar net weer waarom dit moes gebeur het.

“Coert was dol oor visvang en hy was altyd rustig langs die water, maar hy was ook ‘n persoon wat nie geskroom het om vir sy familie te vertel hoe belangrik hulle is nie.

“Ons het mekaar gereeld gesien en nou is daar ‘n groot leemte wat nooit gevul sal word nie.”

Cilliers vertel dat sy nog met elke verskyning van die verdagtes, wat steeds in aanhouding is, in die hof was.

“Die eerste keer het my bene soos jellie gevoel,” het sy gesê.

“Dit was egter vir my ‘n vertroosting om te weet dat ek my kind nooit aan die verkeerde kant van die gereg gesien het nie.

“Hy was daar om die wet toe te pas en ander te help, en dit is al wat hy elke dag met oorgawe gedoen het.

“Ek sal nooit in my lewe die persoon of persone vergewe wat vir my kind se dood verantwoordelik was nie.”

Die gereg moet nog sy gang gaan en daar lê waarskynlik nog ‘n lang pad voor.

Cilliers sê dat sy steeds groot ondersteuning van baie mense, wat na aan Coert was, ontvang.

“Dit help baie. Daar gaan nie ‘n dag verby dat my liewe Boeta nie in my gedagtes is nie.

“Party dae gaan dit bietje makliker, maar daar is dae wanneer dit maar bitter swaar gaan.

“’n Mens, wat nie ‘n vlieg so skade aandoen nie, is vir ewig uit ons lewens geruk.

“My hart is stukkend en ek mis my Boeta elke liewe dag.”

Die verdagtes verskyn weer op 8 November in die Springs Landdroshof.

• Rina Cilliers het, na aanleiding van die hofsaak wat nog afgehandel moet word, versoek dat ‘n foto van haar nie gepubliseer word nie.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button