Opvolg: Rowers volg en beroof man na hy geld by bank trek

Kyk na dramatiese foto’s die oomblik toe die rowers toeslaan.

Drie verdagtes, wat gistermiddag daarin kon slaag om weg te kom nadat hulle ‘n 30-jarige man in Dalview van kontant  beroof het, is steeds op vrye voet.

Lees die oorspronklike berig hier

Daar is aanvanklik gedink dat daar ses rowers was, maar volgens die nuutste  inligting van die SAPD was daar vier verdagtes.

Een van hulle is gearresteer. Die moontlikheid dat ‘n tweede verdagte gewond is word nie uitgesluit nie.

Die 30-jarige man het gister ongeveer 1.30nm by ‘n padkafee in Dalview stilgehou, nadat hy ‘n groot bedrag geld by ‘n bank onttrek het.

‘n Wit Opel Astra met vier insittendes het stilgehou waarna die man beroof is van ‘n gedeelte van die kontant asook sy eie vuurwapen.

Die man kon daarin slaag om die registrasienommer van die voertuig te sien en het om hulp geroep.

‘n Jaagtog het ontstaan en die bestuurder van die Astra het by die kruising van die R23 en Dubestraat beheer oor die voertuig verloor.

Een rower is op die toneel gearresteer en lede van die EMPD se honde-eenheid het skote op die  drie ander vlugtende rowers gevuur.

Volgens inligting van die SAPD het ‘n swart BMW die drie opgelaai en weggejaag.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het vanoggend gesê dat daar op dié stadium geen verdere arrestasies gemaak is nie en dat die ondersoek voortduur.

‘n Lid van die publiek het Maandagmiddag foto’s geneem die oomblik toe die rowers by die padkafee in Dalview toegeslaan het.

Een van die rowers en die wit Opel Astra wat hulle in die roof gebruik het, kan duidelik op die foto’s gesien word.

Die slagoffer se Nissan bakkie is nie sigbaar op die foto’s nie.

Kyk hier na ‘n video wat gister (Maandag) op die toneel geneem is waar die voertuig gerol het:

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version