CrimeEditor's choiceNews

Waarskuwing: Huisbrake neem toe

“Dit is raadsaam om televisiestelle en ander waardevolle items te graveer met ’n identiteitsnommer.”

Die Brakpan SAPD het die week kommer uitgespreek oor die toename van huisbrake in die dorp.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat daar die afgelope tyd beslis ’n sterk styging in dié vorm van misdaad was.

Die afgelope naweek (vanaf Vrydagoggend tot Sondagaand) is daar by 10 huise ingebreek.

Daar is ook inbrake by twee besighede in Victorialaan, Brakpan-sentraal en Coert Steynbergstraat, Van Eck Park aangemeld.

Vrydag het daar vier voorvalle voorgekom in Des Fountainstraat, Minnebron; Hoylaan, Brakpan-sentraal; Northdenelaan, Brakpan-sentraal en Faniestraat, Sunair Park.

Saterdag is daar by een huis in Witheidelaan, Leachville ingebreek.

Sondag was vyf huise die teiken van inbrekers in Bottlebrushstraat, Dalpark; Mc Millanstraat, Brakpan-Noord; Kitzingerlaan, Brakpan-sentraal; Kingswaylaan, Brakpan-sentraal; en Claredonstraat, Brenthurst.

“Dit is duidelik dat die diewe nie ’n spesifieke woonbuurt in die dorp uitsonder nie,” het Joubert gesê.

“Die voorvalle kom wyd verspreid voor,” het hy bygevoeg.

Hy het ook gesê dat die inbrake nie aan ’n sekere tyd gekoppel kan word nie. Sommige vind gedurende die dag plaas en ander weer gedurende die nag.

Joubert het aangeraai dat die publiek oplettend moet wees en ook hul huis- en tuinwerkers bewus moet maak van moontlike gevare.

“Sorg dat die werkers die sektor polisiëringsvoertuie se nommers het en kan bel wanneer daar verdagte persone of voertuie in die omgewing is,” het Joubert gesê.

Hy het ook aangeraai dat die publiek hul eiendom duidelik moet merk en dit op so ’n manier dat dit nie verwyder kan word nie.

“Dit is raadsaam om televisiestelle en ander waardevolle items te graveer met ’n identiteitsnommer.”

“Wanneer hierdie goedere aan pandjieswinkels te koop aangebied word, behoort die eienaar twee keer te dink alvorens so iets aanvaar sal word,” het Joubert gesê.

Joubert het ook die publiek gemaan om nie tuingereedskap soos grawe en vurke te laat rondlê nie.

“Die toerusting word dikwels deur inbrekers gebruik om deure en veiligheidshekke oop te forseer,” het Joubert gesê.

Hy het gesê dat die SAPD poog om ’n forum op die been te bring waarby huiswerkers en huisvroue betrokke kan raak.

“So ’n forum sal ons in staat stel om waardevolle wenke te deel, maar ook waardevolle inligting te versamel,” het Joubert gesê.

Persone wat belangstel om by so ’n forum betrokke te raak kan vir Joubert by 011 744 4940 kontak.

Lees ook:

Diewe steel terwyl bejaardes slaap

Weekend crime round-up

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)
BBM pin: 7F7A9F13

Related Articles

Back to top button