Geen ander keuse as om snags buite te slaap nie

"Ek ontvang ‘n staatspensioen, maar dit is skaars genoeg vir kos en klere."

Die bitter koue en nat weer wat die afgelope paar dae geheers het, het die stryd wat hawelose mense daagliks voer, ongenadiglik vererger.

Vir baie is dit ‘n stryd om elke dag net iets te ete te kry. ‘n Warm droeë slaapplek is vir baie nie beskore nie.

Die aantal hawelose mense, wat veral in die middedorp aan die lewe probeer bly, het die afgelope tyd drasties toegeneem.

Dit is alom bekend dat groot getalle mense snags in die wandellaan op verslete matrasse, kartonbokse, koerantpapier en stukke plastiek slaap.

Sommige is gelukkig om ‘n kombers te hê, ander moet selfs daar sonder klaarkom.

Die wandellaan is ook nie meer die enigste plek wat as slaapplek dien vir vele nie. Opgekrulde mense onder vuil komberse, by die ingange tot geboue, het soggens vroeg ‘n algemene gesig geword.

Een van die “wandellaan-slapers”, soos hulle bekend is, is Johannes Kotze (77), wat al sowat ‘n jaar op straat woon.

“Ek is ‘n ou man, wat geen ander heenkome het nie en niemand wil help nie. Ek ontvang ‘n staatspensioen, maar dit is skaars genoeg vir kos en klere.

“Ek het al aansoek gedoen vir blyplek by Tweedy Park, maar daar is aan my gesê dat daar ‘n lang waglys is,” het Kotze gesê.

“Daar is wel mense wat kamers uithuur, maar hulle verwag R2 000 huur per maand, daarom bly ek op straat. Ek het geen ander keuse nie.

“Die plek waar ons, onsself kon was en ‘n toilet gebruik word nou ook gesluit, so dit is maar moeilik.”

‘n 30-Jarige vrou, wat ook in die wandellaan slaap, se verhaal is ewe skokkend.

Desiré van Stryp vertel dat haar man haar verlaat het en dat sy nie die ondersteuning van enige ander naasbestaandes het nie.

Sy het intussen ‘n vriend ontmoet en het gesê dat sy swanger is.

Sy het Dinsdagoggend op ‘n natterige dubbelbedmatras gesit, met ‘n grys kombers om haar gevou.

Desiré en haar vriend slaap naby Kotze en nog ‘n 61-jarige man.

“Dit is beter as ons so bymekaar bly want dit is nie veilig nie.”

Volgens Desiré het sy onlangs in die nag wakker geword toe ‘n ander man gepoog het om haar seksueel aan te rand.

“Dit is maar ‘n stryd. Ons moet in die nag aan ons komberse klou, want mense probeer dit van jou af steel,” het sy gesê.

Die 61-jarige man, wat verkies het dat sy naam nie gepubliseer word nie, het gesê dat daar snags tot soveel as 30 mense in die wandellaan slaap.

Volgens hom was Maandagnag die koudste nag wat hy nog dié winter beleef het.

“Dit word bitter koud in die nag en jou matras en jou komberse is dan goud werd,” het hy gesê.

Volgens die mense wat bereid was om met die Herald te gesels, is daar organisasies wat aan hulle kos voorsien.

“Hier kom mense om wat vir ons brood en sop gee en dit is ‘n groot hulp,” het Kotze gesê.

Mona Loubser, hulp maatskaplike werker van Rata Maatskaplike Dienste, het gesê dat daar beslis ‘n toename is in die hoeveelheid mense wat op straat is.

Wat volgens haar kommerwekkend is, is dat daar deesdae ook meer vroue is wat nie ‘n heenkome het nie.

Loubser het gesê dat daar Dinsdagnag ook hawelose mense voor die deur van die gebou van die Rata Maatskaplike Dienste in Parkstraat geslaap het.

“Die nood daar buite is baie groot,” het sy bygevoeg.

Kyk hier na meer foto’s 

Exit mobile version