Goeie gebaar laat enkelma stom

Vrydagoggend was sy, soos elke dag, besig om die strate te deurkruis toe ‘n man langs haar stilgehou het en gevra het hoeveel die koekies kos.

‘n 25-Jarige enkelma van die dorp, wat ‘n bestaan daaruit maak om koekies te verkoop, was Vrydagoggend verstom toe haar paaie met die van ‘n weldoener kruis.

Charné Venter (25), van Brakpan-sentraal, verkoop die afgelope twee jaar koekies aan mense van die dorp om ‘n lewe vir haar en haar seuntjie, Gerhard (2), te maak.

Vrydagoggend was sy, soos elke dag, besig om die strate te deurkruis toe ‘n man langs haar stilgehou het en gevra het hoeveel die koekies kos.

Charné het die man meegedeel dat sy R16 vir ‘n pakkie vra en hy het aangebied om twee pakkies te koop.

“Die man het R300 in my hand gedruk en, toe ek vir hom sê dat dit te veel is, het hy gesê dat ek dit moet geniet, waarna hy weggery het,” het sy vertel.

Charné was so verbaas oor die persoon se goedhartigheid dat sy onmiddellik die Herald gekontak het.

“Ek wil hê dat dit in die Herald gepubliseer moet word. Daardie man het my dag gemaak,” het sy gesê.

“Dis wonderlik, aangesien ek nou vir my ouma ‘n verjaarsdag geskenk kan koop,” het sy voort gebabbel.

Charné woon, sedert sy 19 jaar oud is, by haar 66-jarige ouma, Petro Steyn.

Petro sien ook bedags om na Gerhard, wanneer Charné die dorp platloop om koekies te verkoop.

Sy stoot die koekies in ‘n kinder stootwaentjie, aangesien dit swaar is, en spog ook oor die feit dat sy ‘n paar gereelde kliënte het.

“My ouma vat my een keer per week Johannesburg toe, waar ek die koekies koop,” sê sy.

“Ek loop elke dag baie ver, maar ek gee nie om nie, want ek moet vir my en my kind sorg.”

Charné het groot planne vir die toekoms.

“Ek het ‘n naam geskep vir my besigheid: Kookie Busters, en ek wil ‘n kaartmasjien aanskaf.

“Ek kom baie keer mense teë wat nie kontant het nie. As ek ‘n kaartmasjien het, het niemand meer ‘n verskoning nie.”

Charné voeg by dat sy wel droom van ‘n “normale en vaste beroep”, maar vir eers sal sy elke oggend die stootwaentjie vol koekies laai en die strate invaar om geld te maak.

Lees ook:

70-Jarige oom brei vir ‘n vale

Hartgebroke kind (6) verras met nuwe hondjie

Exit mobile version