70-Jarige oom brei vir ‘n vale

Die 70-jarige inwoner wou nie eintlik spog oor sy stokperdjie nie, maar met ’n bietjie oorreding het hy tog vertel waarom hy gereeld aan die brei is.

Die Herald se winterprojek is die week op ’n baie hoë en interessante noot afgesluit.

Die publiek het weereens fluks bygedra en danksy die skenkings sal talle minder bevoorregte mense binnekort ’n warm mussie, serp of kombers ontvang.

’n Skenking wat vanjaar egter die aandag getrek het, was dié van Phillip van Lelyveld wat Maandag 42 kleurvolle serpe en 49 mussies by die Herald se kantoor afgelewer het.

Wat die skenking so uniek maak is die feit dat Phillip eiehandig al die serpe en mussies gebrei het.

Die 70-jarige inwoner wou nie eintlik spog oor sy stokperdjie nie, maar met ’n bietjie oorreding het hy tog vertel waarom hy gereeld aan die brei is.

“My vrou, Engela (68), brei en hekel graag en toe sy ’n weefnaald (knitting loom) aanskaf het ek besluit om dit op die proef te stel.”

“Dit is amper net soos tolletjiebrei en as kind het ek dit gedoen,” het hy vertel.

Phillip brei al die afgelope twee jaar veral mussies en serpe, wat hy en Engela uitdeel.

“Ek verkoop nie die goed nie. Ons deel maar by ouetehuise uit en wanneer ons iemand op straat sien wat in nood is, gee ons maar.

“As ’n mens seëninge ontvang dan moet jy ook bereid wees om te gee,” het Engela gesê.

Phillip vertel dat dit hom sowat twee tot drie ure neem om ’n serp te brei.

“Dit is goed om besig te bly, maar ek sit beslis nie die hele dag en brei nie,” vertel hy.

Hy glo nie aan stilsit nie en sorg dat die tuinwerk en algemene herstelwerk in en om die huis altyd gedoen word.

Die egpaar woon reeds die afgelope 38 jaar in hul baie netjiese huis in Koos Vorsterstraat, Minnebron.

• Die skenkings wat die Herald ontvang het, is aan die Ondersteuningsraad en die Rooi Kruis oorhandig wat dit op hul beurt onder behoeftiges sal versprei.

Dit was vanjaar die tiende jaar dat die Herald hierdie projek aangepak het.

Lees ook:

A decade of making a difference

Reach for your slippers for Reach For A Dream

Exit mobile version