Hartgebroke kind (6) verras met nuwe hondjie

"Ek het trane in my oë gehad nadat die hondjie aan die seun gegee is. Sy gesiggie was regtig 'priceless'."

‘n Ses-jarige kind van Brakpan is Saterdag verras met ‘n nuwe hondjie, nadat inwoners van sy leed gehoor het, op die Herald se Facebook-blad.

Die betrokkenes se name word op hul versoek nie gepubliseer nie, om die kind se identiteit te beskerm.

Die seun was verlede week te bang om buite in die tuin te speel, uit vrees dat hy geskiet gaan word deur die persoon wat sy troetelhondjie verlede Maandag met ‘n windbuks doodgeskiet het.

Die kind se voogouer het verlede Woensdag aan die Herald gesê dat die seun se bokkiehondjie, Milo, tussen 3nm en 4nm in die gesin se erf, in Brakpan-Sentraal, raakgeskiet is.

Milo.

“Ons het Milo na ‘n veearts geneem, maar is meegedeel dat die besering van so ‘n aard was dat die hondjie dit nie sou oorleef nie,” het die vrou gesê.

“Hy was hartgebroke nadat hy die nuus ontvang het. Hy het aaneen gehuil en kan glad nie verstaan waarom iemand sy hondjie wou seermaak nie.”

Die vrou het bygevoeg dat Milo altyd saam met die ses-jarige in sy bed geslaap het en dat hulle onafskeidbaar was.

“Hy is ook bang en het vir my gevra of iemand hom ook gaan skiet as hy buite speel,” het sy gesê.

Die ses-jarige kind het ook gevra of dit nie veiliger gaan wees as hulle eerder trek nie.

Volgens die vrou is die gesin se bullmastiff ook onlangs raakgeskiet, maar die hond het dit oorleef.

Die saak is by die Brakpan SAPD aangemeld en word tans ondersoek.

Binne ‘n paar minute na die oorspronklike berig verlede Woensdag op die Herald se Facebook-blad geplaas is, onder die opskrif ”Mamma gaan hulle my ook skiet as ek buite speel”, het talle mense gereageer.

“Hoe kan ek hulle in die hande kry? Wil vir hulle ‘n woefie gee,” het John Green op die Facebook-blad geplaas. Green het met die gesin kontak gemaak en gereël om die seun met ‘n Jack Russel hondjie te verras.

Hy het ook, met die hulp van lede van die Brakpan Radio Groep, waarvan hy deel is, ‘n geskenkpakkie saamgesit. Dit het ‘n hondebed, -kos, -versnapperinge, -bak en baie lekkergoed vir die ses-jarige bevat.

Saterdag het die dag aangebreek en almal kon nie wag om die seun te verras en sy gesigsuitdrukking te beleef nie.

“Eers is daar vir hom gesê dat hulle ‘n speelgoed hond vir hom het as ‘n geskenk,” het die voogouer vertel.

“Natuurlik was daar teleurstelling op sy gesig en daar was toe vir hom gesê dat hy moet blaf en kyk wat gebeur.”

Die seun het toe ewe ernstig gesê hy is ‘n mens en nie ‘n hond nie, hy sal nie kan blaf nie.

“Die hondjie was onder iemand se baadjie weggesteek. Toe hulle die hondjie uithaal… dit was net wonderlik om so ‘n groot glimlag op ‘n kind se gesig te sien.”

Sy het bygevoeg dat sy weet dié hondjie nie vir Milo gaan vervang nie, maar dit was vir haar te hartverskeurend om die kind te hoor huil in die aande.

“Ek het trane in my oë gehad nadat die hondjie aan die seun gegee is. Sy gesiggie was regtig ‘priceless’,” het Green vertel.

“Sondag het ek ‘n foto ontvang vanaf sy voogouer, wat wys waar die seun en die nuwe hondjie sommer saam in sy bed aan die slaap geraak het. Hy lyk baie gelukkig met sy nuwe hondjie.”

Maandag het die gesin vir die Herald vertel dat die seun sy nuwe hondjie Spotty gedoop het.

“Maar hy stry met ons en sê ons moet dit as Spottie uitspreek,” het die gesin laggend vertel.

Lees ook:

Mamma gaan hulle my ook skiet as ek buite speel

Liefdevolle kat met windbuks geskiet

Worshond maak nou ‘slegte ma’ se kinders groot

VIDEO: Man steals puppy from yard, owner takes action

Exit mobile version