‘Mamma gaan hulle my ook skiet as ek buite speel’

"Hy kan glad nie verstaan waarom iemand sy hondjie wou seermaak nie.”

’n Ses-jarige seun is te bang om buite in die tuin te speel uit vrees dat hy geskiet gaan word deur die persoon wat sy troetelhondjie Maandag met ’n windbuks doodgeskiet het.

Die betrokkenes se name word op hul versoek nie gepubliseer nie.

Die kind se pleegma het vandag (Woensdag) aan die Herald gesê dat die Bokkiehondjie, Milo, tussen 3nm en 4nm in die gesin se erf, in Brakpan-Sentraal, raakgeskiet is.

“Ons het Milo na ’n veearts geneem, maar is meegedeel dat die besering van so ’n aard was dat die hondjie dit nie sou oorleef nie,” het die vrou gesê.

“My seuntjie is sedert Maandagaand hartgebroke. Hy is baie hartseer en huil aaneen. Hy kan glad nie verstaan waarom iemand sy hondjie wou seermaak nie.”

Die vrou het bygevoeg dat Milo altyd saam met die ses-jarige in sy bed geslaap het en hulle was onafskeidbaar.

“Hy is ook bang om buite te speel en het vir my gevra of iemand hom ook gaan skiet as hy buite speel.”

Die ses-jarige kind het ook gevra of dit nie veiliger gaan wees as hulle eerder trek nie.

Volgens die vrou is die gesin se bullmastiff ook onlangs raakgeskiet, maar die hond het dit oorleef.

“Ek wens dat ons vir my seuntjie weer ’n skoothondjie kan kry. Ek weet dit gaan nie Milo vervang nie, maar dit is hartverskeurend om hom so te hoor huil in die aand.”

Die saak is by die Brakpan SAPD aangemeld en word tans ondersoek.

Lees ook:

Liefdevolle kat met windbuks geskiet

Exit mobile version