Editor's noteGalleriesLocal newsNewsSchools galleries

Laerskool Brakpan-Oos vier 80ste bestaansjaar

Die skool het sy ontstaan gehad op 2 Junie 1936 toe dit afgestig het van die Afrikaansmediumskool Brakpan (nou bekend as Kommando).

Die Laerskool Brakpan-Oos het verlede naweek die skool se 80ste bestaansjaar gevier.

Die skool het sy ontstaan gehad op 2 Junie 1936 toe dit afgestig het van die Afrikaansmediumskool Brakpan (nou bekend as Kommando).

Die skoolgebou het bestaan uit ’n sinkgebou, twee klaskamers, ’n stoor en ’n kantoor. Die NH Kerk konsistorie is ook destyds as klaskamers gebruik.

Onder leiding van die waarnemende hoof, JH Meyer, was daar 242 leerlinge en sewe personeellede.

Die eerste permanente hoof van die skool, SI Prinsloo, is in 1937 aangestel.

’n Permanente skoolgebou is in 1938 opgerig. Deur die jare is daar voortdurend aan die gebou en terrein verbeter en vandag huisves die skool jaarliks tussen 800 en 900 leerders.

Die huidige hoof van die skool, Louis van Biljon, wat sedert 2005 die pos beklee, het gesê dat dit voorwaar ’n eer is om deel te wees van die skool se 80ste bestaan.

“Ons skool bou steeds voort op die fondamente wat vir ons gelê is en ek is baie trots op elke huidige leerder en oud-leerder van hierdie skool,” het Van Biljon gesê.

Die feesvieringe het verlede Donderdag ’n hoogtepunt bereik met die amptelike verjaarsdag van die skool.

Leerders het lekker koek geëet en met oorgawe deelgeneem aan boeresport. Natuurlik was daar ook koek vir almal om aan te smul.

Die feesvieringe is verlede Vrydagaand voortgesit met ’n gesellige braai en kuier op die rugbyveld. Ouers, onderwysers, oud-leerders en verskeie kunstenaars het die koue getrotseer om die besondere mylpaal van die skool te vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button