Twee mans in die sop na hul met hondjies in kroeg wil kuier

Terwyl die groep na die deur beweeg het, het die mans glo aggressief geraak en een van hulle het blykbaar die wag verskeie kere op die regter bo-been geskop.

Twee mans, wat dit goed gedink het om met twee honde in ’n kroeg in Dalpark te gaan kuier het vir hulself moelikheid op die hals gehaal.

’n Ambulans is Vrydag in die vroeë oggendure ontbied na die kroeg, by ’n vermaaklikheidsplek in Dalpark, nadat een van die mans glo ’n vroulike sekuriteitswag beseer het.

Volgens inligting het die voorval Vrydagoggend net voor 2vm plaasgevind.

Die vrou, wat mediese behandeling moes ontvang, het glo ’n ander werknemer te hulp gesnel toe daar ’n onderonsie ontstaan het terwyl die twee mans, met die hondjies, na die uitgang begelei is.

Die mans is gevra om die plek te verlaat, aangesien diere nie toegelaat word nie.

Terwyl die groep na die deur beweeg het, het die mans glo aggressief geraak en een van hulle het blykbaar die wag verskeie kere op die regter bo-been geskop.

’n Saak van aanranding is by die Brakpan Polisiestasie geopen na die voorval.

Vyf sake van gewone aanranding en vyf sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer is die afgelope naweek by die Brakpan SAPD aangemeld.

Lees ook:

Gesin se uitstappie laat ‘n bitter smaak

Twee wat waarskynlik te veel gekuier het, breek peperduur pot

Exit mobile version