`Slim oubaas’ (71) gaps sy eie beursie terug na dief dit steel

“Die man aan wie ek kwansuis gestamp het, het steeds tekere gegaan en ek het net ‘n kans gevat en my hand in sy broek se sak gedruk."

‘n 71-Jarige pensionaris is Donderdagaand in die teenwoordigheid van sy agt-jarige kleindogter deur ‘n spul sogenaamde karwagte en hul makkers oorval en van sy beursie beroof.

Gelukkig het die man agter gekom dat sy beursie gegaps is en kon hy daarin slaag om dit uit die broeksak van die dief, wat dit gevat het, te kry.

Die persoon, wat versoek het dat sy naam nie genoem moet word nie, het gevra dat sy ondervinding gepubliseer moet word, in ‘n poging om ander mense, en veral bejaardes, te waarsku.

Die man het om ongeveer 6.30nm inkopies by ‘n winkel in Voortrekkerweg gedoen en was op pad na die uitgang met sakkies in sy hande.

“’n Karwag het my al binne in die winkel genader en gesê dat hy my pakkies wil dra. Ek het die offer van die hand gewys, maar hy het aan die sakkies begin ruk en pluk,” het die man vertel.

“Daar het meer van sy makkers bygekom en in die warboel het ek op ‘n stadium teen een van hulle gestamp.

“Ek glo egter dit was alles opsetlik beplan.

“Die man het my begin beskuldig dat ek aan hom gestamp het en die situasie het net erger geraak.

“Toe ek uiteindelik by my voertuig kom, het ek my kleindogter so gou moontlik laat inklim, aangesien daar steeds so vier mans om my gedraai het.

“Ek het toe na my broeksak gevoel en besef my beursie is weg.

“Die man aan wie ek kwansuis gestamp het, het steeds tekere gegaan en ek het net ‘n kans gevat en my hand in sy broek se sak gedruk.

“Ek het gelukkig my beursie raakgevat.”

Die booswig het toe aan die pensioenaris gesê: “Die oubaas is slim.”

Ek was teen die tyd paniekerig en het in my voertuig geklim en weggery, het die man gesê.

“Ek voel werklik dat winkeleienaars moet toesien dat daar nie ‘n oorvloed van karwagte en leeglêers by hul besighede is nie.

“Bejaarde mense, soos ek, is sagte teikens.

“Die situasie waarin ek was kon hande uitgeruk het; ek was gelukkig om my beursie terug te kon kry.”

“Dit was ook nie ‘n aangename ondervinding vir my kleinkind nie.”

Lees ook:

Suspicious driving leads to arrests

‘Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat iemand hier vermoor gaan word’

Elderly deserve to be protected

Exit mobile version