Besoek Die Anker se fees en wen kontant

Kontantpryse van R3 000, R2 000 en R1 000 is op die spel.

Hoërskool Die Anker beplan die komende naweek ’n feesnaweek, om die skool se 10de bestaansjaar te vier.

Die publiek word uitgenooi om die aktiwiteite, wat reeds Vrydag begin, by te woon.

Die prettighede skop Vrydagmiddag om 2nm af wanneer daar boeresport op die rugbyveld aangebied word.

Vanaf 4nm tot 6nm gaan plaaslike kunstenaars sowel as talentvolle Ankers hul ding op die verhoog doen.

Die biertuin sal om 6nm open, waar vermaak deur die loop van die aand aangebied sal word. Besoekers sal ook heerlike kos kan koop.

’n Ope-lug dans vir oud en jonk sal sorg dat niemand verveeld rondsit nie.

’n Koffiekroeg sal ook beskikbaar wees.

Saterdag, (14 Mei) gaan die aktiwiteite voort en word daar vroeg (7vm) afgeskop met ’n pretloop.

Vanaf 9vm sal die sportvelde begin lewe kry met verskeie liga en rond-om-talie wedstryde waarby rugby, netbal en hokkie betrokke is.

Om 12middag staan besoekers ’n kans om vir hulself kontant in die sak te bring.

Meelbomme sal te koop aangebied word en deelnemers sal die bomme so na as moontlik aan voorafgemerkte blokke op die rugbyveld moet probeer gooi.

Kontantpryse van R3 000, R2 000 en R1 000 is op die spel.

Die organiseerders het die versekering gegee dat daar op beide dae oorgenoeg te eet en te drink sal wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version