Editor's noteLocal newsNews

Onderwyser se seuns in ongeluk, een sterf, een ernstig beseer

’n Onderwyser, wat aan Hoërskool Die Anker verbonde is, het Saterdagaand die skoknuus gekry, wat geen ouer ooit wil hoor nie.

Assie van Aswegen se twee seuns, Téan (23) en Johann (26) was Saterdagaand na 10nm in ’n ongeluk, wat die lewe van Téan geëis het, betrokke.

Johann, wat die passasier was, het ernstige beserings opgedoen en word tans in die Life Glynnwood Hospitaal se hoësorgeenheid behandel.

Die twee broers, wat ook boesemvriende was, was vanaf Beyers Park na Brakpan op pad toe die ongeluk op die hoek van Jubilee- en Solomonweg plaasgevind het.

Volgens Johann se verloofde, Chanelle du Plooy (26), het Téan Saterdagaand by haar en Johann in Beyers Park gekuier.

“Johann het baie sleg gevoel en ’n bekommerde Téan het besluit om sy broer na die Life Dalview Hospitaal in Brakpan te neem,” het Chanelle vertel.

“Hulle was skaars ’n paar minute weg toe ek ’n oproep kry dat hulle in ’n ongeluk betrokke was.”

Chanelle het na die ongelukstoneel gery, maar die aanwysings wat aan haar gegee was, was nie korrek nie.

Sy het na die twee jong mans se ouerhuis in Dalpark gery, waarna sy saam met die twee se pa na die ongelukstoneel gegaan het.

“Toe ons daar aankom was Johann reeds in die ambulans,” het sy gesê.

Volgens hul ma Ronel, het Téan vermoedelik beheer oor sy Volkswagen Polo verloor, waarna dit teen ’n boom gebots het.

Téan is volgens Ronel op slag dood. Johann het onder meer gekneusde longe, drie gebreekte ribbebene, ’n gebreekte enkel en ’n besering aan sy lewer opgedoen.

Téan het die afgelope vyf jaar vir CTM in Brakpan gewerk waar hy ’n pakhuis bestuurder was.

“My twee seuns was onafskeidbaar. Wanneer hulle kon, was hulle bymekaar,” het Ronel gesê.

Sy sê ook dat dit bitter moeilik was om die tyding van Téan se dood aan sy broer oor te dra.

“Ons moes eers wag dat Johann gestabiliseer is voordat ons, met die hulp van ’n trauma berader die nuus kon oordra,” het Ronel gesê.

Ronel en Assie is die afgelope 28 jaar getroud en Assie is die afgelope agt jaar verbonde aan Die Anker.

Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Related Articles

Back to top button