CrimeEditor's noteNews

Opvolg: Man erg beseer toe hy aan palissadeheining vashaak

Die man, wie se linkerarm beseer is toe hy na bewering aan ‘n palissadeheining vasgehaak het, het inderdaad gepoog om te steel.

Die woordvoerder van die Brakpan SAPD, kapt Joep Joubert, het die voorval bevestig en gesê dat die inbreker gisteroggend (Maandag) in Brakpan-Noord betrap is.

Volgens Joubert het ‘n inwoner van Ellisstraat wakker geword toe hy ‘n gedoente in sy erf hoor.

“Die inwoner het gaan ondersoek instel en gesien dat ‘n buurman ‘n verdagte persoon (23) aangekeer het”, het Joubert bygevoeg.

Die oortreder het blykbaar gepoog om tuinstoele te steel en toe hy wou ontsnap, het hy sy linkerarm aan ‘n palissadeheining gehaak. Die waarde van die stoele is ongeveer R150.

fence1

Die verdagte is aangehou totdat die SAPD opgedaag het, waarna hy na ‘n naby geleë hospitaal vervoer is.

Joubert het bygevoeg dat die man aangekla sal word van diefstal.

In ‘n soortgelyke voorval het dinge lelik skeefgeloop vir ‘n 31-jarige man wat Donderdag saam met ‘n makker by ‘n besigheid in Ergoweg ingebreek het.

Volgens Joubert het wagte, wat by die besigheid aan diens was, die twee verdagtes opgemerk.

Die booswigte het op die vlug gelsaan en een het glo in lemmetjiesdraad verstrengel geraak.

Hy is deur die wagte aangehou totdat die SAPD opgedaag het. Sy makker kon daarin slaag om weg te kom.

Die gearresteerde man het Vrydag op aanklag van besigheidsroof in die Brakpan Landdroshof verskyn.

Volgens Joubert kan die man met ten minste nog een voorval van besigheidsroof verbind word.

“Die moontlikheid dat daar nog sake teen hom kan kom word ook nie uitgesluit nie,” het Joubert gesê.

Related Articles

Back to top button