Ma en kleuter getraumatiseer deur grypdief

‘n 27-jarige ma en haar vierjarige dogter het Vrydagmiddag erg trauma opgedoen nadat hulle slagoffers van 'n breek-en-gryp insident was.

Die insident het om ongeveer 3nm, op die hoek van Voortrekkerweg en Stasiestraat, plaasgevind.

Chantelle Annandale het aan die Herald verduidelik dat sy by die robot stilgehou het, en dat hare die eerste kar in die ry was wat aan die linkerkant gestaan het.

“My venster was net bietjie oop gewees en my dogter het agter my sitplek gesit in haar karstoel. Ek het gesien hoe daar mense by die kafee gestaan het en dit het tog gevoel asof hulle die karre dophou,” het sy vertel.

Annandale was nie gehinder deur die mense nie, aangesien sy haar handsak uit booswigte se sig, onder die passassiersitplek, gesit het.

Annandale het verder verduidelik dat een van die mans wat by die kafee gestaan het ewe skielik by haar passasiersvenster verskyn het en dit stukkend geslaan het.

Die rower het dadelik geweet waar om te gryp en het toe laat spaander.

“Alles het in ‘n oogwink gebeur. Ek weet nie eens of die man gewapen was nie en het ook nie gesien waarmee hy my venster gebreek het nie,” het die vrou gesê.

Annandale het om hulp geroep, maar min mense het gereageer.

“Daar was vrouens wat by die kafee gestaan en sien wat gebeur het. Hulle het gelag nadat ek geskree het vir hulp en het gemaak asof hulle agter die rower aan hardloop.”

Die mense wat wel op Annandale se krete om hulp gereageer het, het verduidelik dat die rower klaar in die bosse in verdwyn het en dat dit onmoontlik sou wees om hom te vind.

“Dit was regtig traumaties vir my, want ek was ook al gekaap en met die insident het dit weer daai traumatiese ervaring wakker gemaak,” het sy gesê

“Darem het ek en my dogter geen beserings opgedoen nie, maar dit is nie lekker vir ‘n ma as jy sien hoe jou kind sukkel om normal aan te gaan na so iets nie.”

“Sy is baie beter nou na die naweek en kan darem weer slaap in die aande,” het Annandale vertel.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan Polisiestasie, waarsku motoriste, veral vroulike motoriste, oor die verkeerslig op die hoek van Voortrekkerweg en Stasiestraat, wat ‘n algemene plek is vir breek-en-gryp insidente.

Hy het aangeraai dat waardevolle items liefs in die kattebak en uit die sig van booswigte toegesluit moet word.

“Grypdiewe mik gewoonlik vir die passassiersvenster, aangesien dit as ‘n verrassingselement gebruik word en hulle weet die meeste motoriste sit hulle besittings aan die passassierskant.”

Joubert het ook aangeraai dat motoriste verkieslik oop vensters moet toemaak as hulle by ‘n robot stop.

“Menigtemale is motoriste se vensters oop wanneer hulle by ‘n robot staan, wat dit dan makliker maak vir diewe om die daad te pleeg,“ het hy verduidelik.

Lees ook:

Waarskuwing: So lok kriminele jou uit jou huis

Dief byt vrou se ring van haar vinger af

Stolen vehicle recovered

Exit mobile version