NewsSchools

Stoffberg se matrieks slaag almal, Lucinda is die uitblinker

Daar was Woensdagoggend oral breë glimlagte te sien by die Hoërskool Stoffberg toe die matrieks van 2015 na ’n lang gewag hul uitslae by die skool gaan afhaal het.

Die breedste glimlag was egter op die gesig van Lucinda Helberg wat ’n allemintige agt onderskeidings behaal het.

Vreugdevure het ook hoog gebrand aangesien die skool vir die sewende agtereenvolgende jaar ’n 100 persent slaagsyfer behaal het.

Die hoof van die skool, Koos Boshoff, het groot lof vir  al die matrikulante en sy onderwysers gehad terwyl hy ’n kleurvolle bos blomme aan die skool se uitblinker oorhandig het.

“Ons is baie trots op elke matrikulant van hierdie skool. Harde werk, disipline en toewyding het vrugte afgewerp,” het Boshoff gesê.

Lucinda het onderskeidings in Afrikaans huistaal (86), Engels eerste addisionele taal (89), wiskunde (86), lewensoriëntering (87), rekeningkunde (98), rekenaartoepassingstegnologie (92), lewenswetenskappe (96) en fisiese wetenskappe (91) behaal.

Sy het aan die Herald gesê dat sy altyd gehoop het om agt onderskeidings te behaal.

“Ek het hard gewerk en duime vasgehou,” het sy gesê.

Die hoof het haar Dinsdagmiddag met die goeie nuus gebel.

Lucinda, wat haar laerskoolloopbaan aan die Laerskool Brakpan-Oos voltooi het, was sedert graad vier tot matriek die voorste akademiese presteerder in haar graad.

“Dit kom alles met harde werk en toewyding. Dit help nie om net terug te sit en dink sukses gaan in jou skoot val nie,” het sy gesê.

Haar droom om ’n veearts te word begin nou, wanneer sy eersdaags by Tukkies begin studeer.

“Ek het al in graad een besluit ek wil eendag ’n veearts wees en ek het nog nooit eens aan ’n ander beroep gedink nie,” het Lucinda gesê.

Haar raad aan die matrieks van 2016 is om van die begin af hard te werk, op te let in die klas en nie te huiwer om te vra vir hulp nie.

Twee leerders van Stoffies, Jestelle du Toit en Cheraldene Levinson, het elk drie onderskeidings behaal terwyl vyf leerders elk twee onderskeidings los geskryf het.

Kyk hier na meer foto’s

Related Articles

Back to top button