Editor's noteLocal newsNews

Harde klappers laat diere vlug

Die afgelope feesseisoen het, soos in die verlede, weer tot groot ergernis vir die eienaars van troeteldiere gelei.

Die Herald het talle klagtes en desperate versoeke van mense, wie se diere vermis geraak het, ontvang.

Ten spyte van talle versoeke en waarskuwings in die media het baie mense steeds onverstoord voortgegaan om klappers en vuurwerke op veral Kersdag, Oujaarsaand en Nuwejaarsdag te gebruik.

Die harde knal van veral “bom-klappers” het gesorg dat baie honde vermis geraak en selfs beseer is.

Een inwoner wat gruwelik ontsteld is oor die klapper skietery is Johan van Eden van Regent Court, wat op die hoek van Prince Georgelaan en Boundaryweg geleë is.

Sy gesin se Fox Terrier is op Nuwejaarsdag beseer toe dit vir ‘n klapper geskrik het.

“Die hond, wat op my skoot gesit het, het so groot geskrik toe die klapper afgegaan het.”

“Die stomme dier het by ‘n sekuriteitshek probeer uitkom en in de proses sy kop en been seergemaak,” het Johan gesê.

“Hierdie mense kan beslis nie lees nie, want daar is oral in die media verduidelik wat die reëls en uitwerking is ten opsigte van vuurwerke wat in residensiële gebiede afgevuur word.

“Ek gee nie om as mense hulself wil geniet nie, maar hul moet net ‘n wyle neem en ander mense (en diere) ook in ag neem,” het Johan gesê.

Nog ‘n troeteldiereienaar wat steeds na haar hond soek is Linda Marais (31).

Sy en haar gesin hou nog vakansie in St Lucia, maar nie met ‘n lekker hart nie.

“Ek weet dat mense op Oujaarsaand klappers skiet en ons het juis gereël dat ‘n familielid my hond, wat ek al agt jaar het, so teen 5nm in die huis gaan toemaak,” het sy vertel.

“Mense naby ons huis in Derbylaan het egter al vroeër die dag begin om klappers te skiet en Tokkels het die pad gevat,” het sy gesê.

Linda het die publiek deur middel van Facebook gevra om op die uitkyk vir haar hond te wees en bied ook ‘n beloning aan.

Die gesin keer eers Vrydag (8 Januarie) terug van vakansie.

Lees ook:

Inwoner se liefde vir vuurwerke ontstel ander

Related Articles

Back to top button