Local newsNews

ViA-Vinkies sluit af na nog ‘n suksesvolle jaar

’n Projek wat sowat vyf jaar gelede op die been gebring is om kinders te help wie se ouers nie kleuterskool onderriggelde kan bybring nie, gaan steeds van krag tot krag.

Die ViA-Vinkies kleuterskool is vyf jaar gelede onder leiding van Rina Aucamp begin en het onlangs, na nog ’n suksesvolle jaar, hulle afsluitingsfunksie vir 2015 gehou.

“Na die vertrek van ’n paar personeellede aan die einde van verlede jaar, het ons gedink dat die projek nie sou kon voortgaan nie, maar ’n puik afgetrede graad een onderwyseres, Marietjie Goller, het haar dienste kom aanbied, asook ’n maatskaplike werkster, Jeanette Ehlers,” het Esther Rothman, die projekbestuurder gesê.

Dié twee kundiges word bygestaan deur Marthie van der Berg en Magda Hattingh.

Alta van der Merwe het ook haar dienste aangebied en saam Rothman word die ma’s van die kleuters op emosionele, godsdienstige en kreatiewe terrein opgehef.

Terwyl die kinders leer word daar opheffingswerk onder die ma’s gedoen. Hulle word geleer om pragtige artikels te maak, wat verkoop kan word.
Terwyl die kinders leer word daar opheffingswerk onder die ma’s gedoen. Hulle word geleer om pragtige artikels te maak, wat verkoop kan word.

Weldoeners van hierdie jaar is genooi na die afsluitingsfunksie, wat onlangs in die saal van die Brakpan Hervormde Kerk gehou is.

’n Dankie-sertifikaat is ook aan elkeen wat vanjaar op een of ander manier ’n bydrae gemaak het oorhandig.

Die gradeplegtigheid van die graad R-leerlinge was egter die hoogtepunt van die oggend.

Marietjie Goller wens twee van die kleintjies, wat volgende jaar skool toe gaan, geluk.
Marietjie Goller wens twee van die kleintjies, wat volgende jaar skool toe gaan, geluk.

“Te danke aan ons ondersteuners asook Die Plaaskombuis, Brakpan Radiogroep, Honkie Ponkie Kleuterskool, die Hoërskool Stoffberg, Top Print asook bydraes van die Vroue in Aksie, kon ons hierdie jaar elke skoolgaande kleuter toerus met ’n volledige stel skoolklere, tasse en die nodige skryfbehoeftes,” het Rothman gesê.

Elke kind het ook ’n pragtige Kersgeskenk ontvang.

“Die afgelope vyf jaar is daar al 30 kindertjies gehelp wie se ouers nie die kleuterskool onderriggelde kan bybring nie,” het Rothman bygevoeg.

“Om hierdie projek aan die gang te hou is ons afhanklik van bydraes en skenkings uit die gemeenskap. Kruideniersware is ook ’n groot behoefte aangesien ons ook poog om die ouers by te staan.”

Rothmann het verduidelik dat die missie van die projek opheffing deur opleiding is.

Die klasse begin weer Donderdag, 4 Februarie, 2016, om 9vm.

“Ons is so bevoorreg om die fasiliteite van die Hervormde Kerk in die dorp tot ons beskikking te hê en ons is baie dankbaar daarvoor,” het Rothman gesê.

Aangesien daar net een maal ’n week vergader word, word daar van die ouers verwag om hulle kinders tuis te help om vaardighede te ontwikkel en te bemeester en om die kennis vas te lê.

ViA-Vinkies het nog plek vir ’n paar kleuters tussen vier en ses jaar.

Ouers wat graag hulle kinders wil inskakel kan vir Rothman tussen 6nm en 7nm skakel by 011 915 2839.

Kyk hier na meer foto’s

Related Articles

Back to top button