CrimeEditor's noteNews

As jy geld trek is jy ’n teiken: Pa en seun van bank agtervolg

Die Brakpan SAPD het ’n ernstige waarskuwing gerig aan mense wat kontant, en veral groot bedrae kontant, by banke onttrek.

Dit volg nadat daar onlangs ten minste twee voorvalle was waar mense agtervolg is en daar gepoog is om die kontant, wat onttrek is, te steel.

In een geval het ’n pa en seun R20 000 by ’n bank in die Mall@Carnival onttrek.

“Ons het terug gery na ons werkplek in Brakpan-sentraal en toe ons daar naby stilhou het ’n donker grys Mercedes Benz voor ons gestop,” het Dup du Preez (51) gesê.

Drie mans, wat almal gewapen was, het uitgespring en dadelik gesê dat hulle die geld soek.

“Hulle het presies geweet die geld was aan ons,” het Du Preez gesê.

Sy seun, Vernon (32) kon daarin slaag om ’n skoot af te vuur en dit het die drie rowers die hasepad laat kies.

“Dit is so duidelik soos daglig dat die rowers op een of ander manier inligting gekry het,” het Du Preez gesê.

“Ongelukkig het ons, as gevolg van die aard van ons besigheid, kontant nodig. Ons is gewoonlik versigtig, maar hierdie voorval het net weereens bewys dat ’n mens nooit té versigtig kan wees nie,” het Du Preez gesê.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat daar gewoonlik hierdie tyd van die jaar ’n toename in dié vorm van misdaad is.

Hy het mense aangeraai om, waar moontlik, van elektroniese bankdienste gebruik te maak.

“Wanneer jy wel kontant moet onttrek moet jy oplettend wees vanaf die oomblik wanneer jy by die bank uitstap,” het Joubert gesê. “Maak ook seker dat jy nie deur ’n ander voertuig agtervolg word nie,” het hy bygevoeg.

Lees ook:

Perjury can land you in jail

So maak jy diewe se lewe maklik

Related Articles

Back to top button